Voor van links staan Andro Engelbrecht (die direkteur van Swartland Toerisme) langs dr. Ivan Meyer (Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme) en Michael Rangasamy, Speaker van die Swartland- munisipale raad. Agter staan Adri Jacobs (Malmesbury Toerisme), Ann Heyns (bestuurder van Swartland Toerisme), Lara Scott (Riebeekvallei-toerismekantoor), Nelius Volschenk (direkteur van Swartland Toerisme) en Lindy Camouris (adjunk-direkteur van Toerisme Bemarkings- ontwikkeling in die provinsiale departement). Foto’s: Charlotte Lesch

“Die wêreld is besig om te verander. Ek het besluit om my fokus en perspektief oor toerisme te verander. Die tyd het aangebreek waar mense ander bestemmings soek. Kaapstad is vir die volgende ses maande volbespreek. My werk as die minister is om nou vir mense te sê om Swartland toe te gaan. Daar is plek. Julle is perfek geleë.”

Só het dr. Ivan Meyer, die provinsiale minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, by ‘n byeenkoms aangebied deur Swartland Toerisme, gesê.

Dié netwerksessie tussen Meyer, plaaslike rolspelers in die toerisme-bedryf en verteenwoordigers van Swartland Toerisme is die afgelope Donderdag (17 Julie) by Rusty Cantina in Riebeek-Kasteel gehou waartydens hy aan gaste meer kom vertel het oor sy visie en missie vir landelike toerisme.

“Met alles wat in die wêreld aangaan, soek mense ‘n uitlaatklep en dit is toerisme, maar ‘n ander vorm daarvan. Mense soek nie noodwendig meer net Tafelberg of Robbeneiland nie. Hulle soek klein plattelandse plekke en skatte. Ons moet in die onkonvensionele toerismeroetes inbreek.”

Meyer meen munisipaliteite vervul ‘n integrale rol wanneer dit by die bevordering van plaaslike toerismebestemmings en die toerismebedryf kom. “Toerisme kom tot sy reg wanneer [die omgewing] ‘n funksionele munisipaliteit [het].”

Hy het bygevoeg hoe trots hy op die Swartland-munisipaliteit – een van die topdrie munisipaliteite in die land – is. “Dít is die soort mense met wie jy in die konteks van toerisme kan saamwerk,” het hy beklemtoon.

Meyer het met sy ervaring besef die mense soek die rustigheid van die platteland en dorpe wat binne ‘n radius van twee ure omliggende bestemmings kan bereik. “My rol is om meer mense te kry om julle te besoek en eksponen- siële groei te bevorder.”

Hy het voorts gesê toerisme gaan eers oor mense en hul stories, dan oor plekke. Daarom meen hy ‘n langtafel-byeenkoms is ideaal vir ‘n plek soos Riebeek-Kasteel. “Hier is kulturele warmte waar jy praat oor jou kultuur, daarna oor my kultuur en dan oor erfenis.”

Meyer het op sy beurt saam met die provinsiale tesourie opdrag gegee om ‘n haalbaarheidstudie oor die implementering van toerismeheffings te doen. Dié heffings, wat reeds in die res van die wêreld ingestel is, sal vir die bevordering en bemarking van die bedryf in toerisme teruggeploeg word.

Meyer se missie is om toerisme in klein dorpe te stimuleer en te laat floreer. “Ek wil internasionale ambassadeurs hier kry – konsulate. Hulle moet hierheen kom,” sê hy opgewonde.

“Swartland is een van die streke wat baie produkte na die res van die wêreld uitvoer. Ons moet ambassadeurs na wie se lande uitgevoer word, nooi om te besoek. Dis hoe jy jou dorp en streek aan hulle verkoop, wat op hul beurt jou dorp aan hul inwoners bemark.”

Volgens hom is dit belangrik om toerisme op jou eie webblad te bevorder deur inligting in verskeie tale vir meer toeganklikheid te bied. “Ons is vasberade om die Wes-Kaap as die bestemming te verkoop – nie net Kaapstad nie.”

Gaste in die plaaslike toerismebedryf het ‘n netwerksessie saam met die Wes-Kaapse minister
van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme,
dr. Ivan Meyer, by die Rusty Cantina in Riebeek-
Kasteel bygewoon. Foto: Charlotte Lesch
Andries Dirks, ‘n beeldhouer van Riebeek-Kasteel, deel sy beeldhouwerk van klei, wat hy in die omliggende gebied met die hand ontgin, met dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Michael Rangasamy, die Speaker van die Swartlandse raad, en gaste gedurende ‘n netwerksessie wat die afgelope Donderdag (17 Julie) by die Rusty Cantina deur Swartland Toerisme aangebied is. Foto: Charlotte Lesch
Russel Ashbey, eienaar van Rusty Cantina in Riebeek-Wes het sy restaurant beskikbaar gestel vir die geleentheid en ‘n heerlike middagete vir die uitgenooide gaste aangebied. Die Swartland Toerisme het hul dankbaarheid teenoor Ashbey vir sy gasvryheid en bydra tot die geleentheid, beklemtoon. Foto: Charlotte Lesch

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article