Darling was Saterdag 28 Junie die toneel van hoëspanningsrugby toe dié dorp se trots teen sy buurman Mamre te staan gekom het tydens die Sanlam Boland Rugbyunie se 2025 Derby-dag – ‘n dag wat diep gewortel is in streekstrots, tradisie en gemeenskapsgees.
Reeds twee weke voor die groot dag was die atmosfeer gelaai toe die onderskeie klubvoorsitters, afrigters en kapteine die derby by die Gabriël Faroa-sportterrein (Byenes) in Darling op 18 Junie amptelik bekendgestel het.
Die voorstaanders van beide klubs – Jonathan Petersen (Darling), Bernette Stadler (Mamre), Magnum Nelson en Kenneth Stadler (afrigters) asook die kapteine Benwille Goliath en Remzi Cuce – het nie geskroom om hulself seëvierend uit te spreek nie.
Die debat was hartstogtelik: wie verdien werklik die kroon van die Swartland?
Op wedstryddag het Mamre se derde span eerste bloed getap met ‘n noue 11-8-oorwinning, maar Darling se tweedes het vinnig reageer en ‘n 18-13-sege losgespeel, wat die hoofwedstryd se betekenis net verder versterk het.
Darling se Tyrique Oppelt het vroeg in die wedstryd ‘n strafskop oorgestuur. Mamre het stadig maar seker in die wedstryd gekom danksy ‘n strafskop, maar ‘n kragtige lopie deur die regtervleuel, Gerrit Carolus, het die telling na 8-3 vir Darling verhoog.

In dié tyd het Darling Mamre harde bene laat kou, maar die besoekers het enduit vasgebyt toe Edwill Okkers ‘n tweede strafdoel behaal en kort op Darling se hakke gehou het om die rustydtelling op 8-6 te staan te bring.
Ferlin Tango het die tuisspan se voorsprong met die aanvang van die tweede helfte uitgebrei met ‘n beslissende drie, gevolg deur Oppelt se derde suksesvolle skop.
Met die telling op 19-9 het dit gelyk asof Darling beheer geneem het, maar Mamre het vinnig teruggestaan. Lathan Okkers het met ‘n sterk lopie agter die pale gaan druk en die agterstand tot 14-19 verminder. Die skare het behoorlik asem opgehou.
Die laaste 20 minute was van die mees gespanne rugby wat Byenes in jare gesien het. Bradwin Prins het ná meesterlike voor- en agterspel die telling op 19-elk gelykgebring.
Kort daarna het Bradwin Johnson Darling se foute genadeloos uitgebuit en twee strafdoele oorgeklits, wat Mamre sy eerste voorsprong (22-19) ná 70 minute gegee het, met die laaste (langafstand)-strafskop, wat die derby in Mamre se guns verseël het (25-19).
“Die wedstryd was straf en ons het goed meegeding tot om en by die 60ste minuut,” het Darling-afrigter Magnum Nelson ná afloop gesê. “Mamre se ervaring in die vaste vyf het ons jong voorspelers begin afbreek, wat tot strafskoppe gelei het. Ek is egter trots op die jongmanne wat vandag die hand opgesteek het. Ons sal terugkom in ons volgende wedstryd.”
Vir Mamre was dié sege veel meer as net punte op die telbord. Dit was ‘n simboliese oorwinning en ‘n terugkeer na die Swartlandstreek met hul kop omhoog en bewys dat Mamre-rugby floreer en vir die laaste twee plekke kan kwalifiseer.
Ander uitslae:
• Swartland: Wesbank 44-17 Moorreesburg, Abbotsdale 46-53 Saron, Porterville 59-6 Never Despairs, Liefling 19-25 Mamre.
•Weskus: Saldanha 39-29 Velddrif, Vredenburg 25-20 Langebaan, St Helena 44-17 Young Hearts, Paternoster 34-28 Hopefield.






You must be logged in to post a comment.