Meer as 80 inwoners ouer as 80 jaar het onlangs saam ’n vroeë Kersfees gevier. Lede van die Swartland NG Moedergemeente en die Swartland Noord-gemeente in Malmesbury is die afgelope Donderdag vir ’n Kersfees-feesmaal genooi, wat nog lank onthou sal word.
Die genooide inwoners het bejaardes ingesluit wat nog nie in aftreeoorde of ’n tehuis vir bejaardes woon nie. Volgens ds. George Prinsloo van die Noord-gemeente, is die meeste inwoners wat die geleentheid bygewoon het, nog onafhanklik van ander.
Ds. Jacobus Snyders van die Swartland NG Moedergemeente vertel die geleentheid word al die afgelope sowat 10 jaar, behalwe gedurende die Covid-19-pandemie, by verskillende onthaallokale op die dorp aangebied. Vanjaar is dié uitstappie by die Nuweplaas-padstal aangebied. Die aanvanklike idee was om Kersfeesvieringe na bejaarde inwoners wie se kinders ver woon of nie vanjaar oor die feestyd saam kan wees nie, te bring. Die ander rede vir hierdie feesmaal was om ’n geleentheid vir die inwoners ouer as 80 te gee waar hulle bymekaar kan uitkom, saamkuier, terugsit, eet en net ontspan,” verduidelik Snyders. “Die een tannie het gesê hoe lekker dit was om nie self vandag kos hoef te maak nie,” vertel hy met ’n dankbare glimlag.
Behalwe vir die driegangmaaltyd, het Christo Smit die gaste met Kerssang kom vermaak, gelukkige trekkings is gehou en Ann Roets, wat bekend is vir die bid-beertjies wat sy maak, het besoekers kom vertel van haar geestelike reis met die Here en die beertjies.
Kobie Jeppe het die geleentheid as ’n wonderlike idee met uitstaande geselskap beskryf. “Van die kos op die tafel tot die geskenke en die versierings – alles was wonderlik.”
Joan Swart het op haar beurt vertel dat sy alleen in ’n woonstel woon, daarom was die geleentheid vir haar ’n groot bederf en ’n lekker uitstappie. “Vandag was vir my ’n lang vakansiedag,” skerts sy.
Anice Visser het die geleentheid as ’n groot voorreg beskryf. “Ons waardeer dit so baie,” vertel sy dankbaar.





