Die gewilde jaarlikse Wesbank-Super Spar-Castle-7’s-toernooi vind hierdie naweek – Vrydag en Saterdag 27 en 28 Januarie – plaas.

Duisende ondersteuners sal vir dié jaarlikse skouspel na verwagting na die Wesbank-sportterrein in Alfastraat, Malmesbury, stroom.

Die organiseerders het twee nuwe byvoegings ingesluit – netbal en vroue-rugby sal die eerste keer deel van die 2023-toernooi wees.

Die toernooi met prysgeld van R60 000 lok jaarliks klubs en toeskouers uit alle dele van die land en selfs uit Namibië na Malmesbury.

Die plaaslike spogklubs van Malmesbury – Roses (2022-kampioen) en sy buurklubs Darling, Mamre, Hamlets, Moorreesburg en Piketberg en drie Namibiese teenstanders – kan strawwe teenstand verwag van St. Georges, Strand, Maccassar, Hopefield, Viliersdorp en ander spanne, wat reeds hul deelname bevestig het.

Marius Schoeman, die akademie­breier, het die 2022-toernooi gebruik as verkenningsfondasie vir die SA 7’s-akademie met die ondersteuning van die huidige Blitsbok-afrigter Sandile Sticks Ngcobo om spelers te identifiseer en later deel van die Blitsbokke se ontwikkeling te word.

Shilton Van Wyk en Jayden Baron is huidige Blitsbok-spelers wat hul merk by die toernooi gemaak het voordat hulle na die nasionale sewespan opgeroep is.

Die 7’s-toernooi is in twee afdelings verdeel – die uitdaag- en die premierbeker. Die uitdaagbeker skop Vrydagaand af met klubs se tweede spanne tesame met klubs van die Bolandse streekuitdaag en gemeenskapskild.

Netbal en vroue-rugby is vanjaar die eerste keer deel van die toernooi en die organiseerders sien uit na opwindende wedstryde, veral onder netbalspanne. Met die 2023-Wêreldbekernetbaltoernooi in Suid-Afrika om die draai, hoop die organiseerders om die gewildheid van netbal onder netbalklubs verder aan te wakker.

Agt vrouerugbyspanne van die WP, Boland, Griekwas en ’n moontlike Namibiese span gaan pak mekaar Saterdag terwyl 16 netbalspanne mekaar op die netbalbane aandurf. Alle eindstrydwedstryde word Saterdag beslis en ’n kragmeting soos min kan onder die topspanne verwag word.

Eduann Howburg, die toernooi-direkteur, sê alle plekke is reeds gevul.

Klubs wat die sperdatum op 14 Desember misgeloop het, sal op ’n gereedheidsgrondslag geplaas word mits enige van die bestaande spanne hulle aan die toernooi onttrek.

Die toernooi-bekendstelling en -loting vind vanaand (Dinsdag 24 Januarie) plaas en alle navrae kan aan Howburg by Eduann.Howburg@capetown.gov.za gerig word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article