Duisende leerders van reg oor die Wes-Kaap het verlede week weens die gewelddadige staking deur die minibus-taxivereniging in die provinsie, Santaco-WK, van skole af weggebly.

Volgens die provinsie se onderwysdepartement het gemiddeld meer as 20 000 leerders in die Weskus-onderwysdistrik kritieke onderrigtyd misgeloop nadat leerders nie die nodige vervoer gehad het om by skole uit te kom nie.

Baie leerders was genoop om eerder tuis te bly weens die gewelddadige gebeure wat gedurende die staking plaasgevind het.

Volgens Kerry Mauchline, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse minister van onderwys, David Maynier, het die getalle leerders wat skool bygewoon het, daagliks gewissel.

“Die dag met die hoogste afwesigheidsyfer was verlede Dinsdag, 8 Augustus, waartydens 25 000 leerders in die Weskus-distrik afwesig was. Dit is ongeveer 34% van die algehele aantal leerders in die distrik,” voeg sy by.

Volgens Mauchline het die Wes-Kaapse departement van onderwys egter geweier om skole weens die staking te sluit.

“Ons het dit alleenlik gedoen om te verseker dat skole gefokus bly op onderrig, maar ook om ’n plek van veiligheid vir leerders te bied en honger kinders van maaltye te bly voorsien.”

Die WKOD het alle skoolhoofde, onderwysers en personeel wat die ekstra myl gestap het om leerders tydens die staking te ondersteun en by te staan, bedank.

Volgens ’n verklaring wat deur die departement uitgereik is, was altesaam 852 000 leerders en 17 700 personeellede van reg oor die provinsie afwesig, terwyl skole in armoedige gebiede die ergste deur die staking geraak is.

Sommige ouers is glo steeds huiwerig om hul kinders met taxi-dienste skool toe te stuur.

Maynier het intussen ’n beroep op ouers gedoen om hul kinders skool toe te stuur noudat die staking amptelik verby is.

“Ons weet dit is ’n uitdagende tyd, maar ons moet seker maak dat ons kinders teruggaan skool toe. Ons kan nie nog ’n dag sonder onderrig in skole bekostig nie,” het hy gepleit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article