’n Regter by die Wes-Kaapse hooggeregshof, Monde Samela, het Zandré Swartz die afgelope week tot ’n dubbele lewenslange tronkstraf gevonnis.

Die 31-jarige Swartz is skuldig bevind aan die dubbele moord op ’n plaaslike paartjie, Elizabeth Vermeulen en Albert Simons, van Kalbaskraal buite Malmesbury.

Die gebeure het sowat drie jaar gelede op 1 November 2019 afgespeel.

Swartz, wat die egpaar doodgeskiet het, is verder aan poging tot moord op ’n ooggetuie en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie skuldig bevind. Hy is ook tot nog agt jaar vir poging tot moord, 20 jaar vir die besit van ’n onwettige vuurwapen asook ses jaar vir die onwettige besitting van ammunisie gevonnis.

Die ondersoekbeampte, sers. Zaliseka Hlatshaneni, is deur die regter vir sy goeie speurwerk geloof. Hy is ook deur die ouers van die slagoffers geprys.

Adv. Esmeralda Cecil het saam met Hlatshaneni gewerk om die beskuldigde suksesvol agter tralies te kry. Regter Samela het Swartz beskryf as onberouvol en iemand wat geen tekens van rehabilitasie toon nie. Volgens die polisiewoordvoerder Ndakhe Gwala het Samela gesê Swartz het die dood van die slagoffers as onbelangrik beskou en dit is die hof en die polisie se plig om die onskuldige en kwesbare slagoffers van genadelose moordenaars wat geen respek vir mense se lewens het nie, te beskerm.

Swartz was glo ook ’n bendelid, voeg Gwala by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article