MONTAGU – Skokgolwe, ongeloof en verslaentheid het deur dié dorp gespoel namate die skielike heengaan van ’n pragtige jongmeisie bekend geword het.
Maxine Antonie (18) het Maandag 23 Januarie in die vroeë oggendure in ’n noodlottige botsing gesterf.
’n Jong man, Hakeem Mohammed, wat ook in die voertuig was, is ernstig beseer.
Volgens die plaaslike polisie het polisiebeamptes patrolliewerk in Badstraat gedoen toe hulle op die ongelukstoneel afgekom het. Die botsing was reg oorkant die pitteverwerkingsaanleg in Badstraat.
“Lede wat Maandag 23 Januarie patrolliewerk gedoen het, het om ongeveer 02:40 op ’n wit Toyota Yaris-motor teen ’n boom op die kant van die pad afgekom. Die lede het ondersoek ingestel en onmiddellik die nooddienste gekontak,” het AO Suria Meyer, kommunikasiebeampte van die Montagu-polisie, by navraag verduidelik.
Maxine, die dogter van Marilyn Antonie, ’n bekende verpleegsuster by die Montagu-hospitaal, het op die toneel aan haar beserings beswyk.
Meyer het voorts gesê: “Die ambulans het die 18-jarige Mohammed na die plaaslike hospitaal vervoer, maar ongelukkig is Maxine op die ongelukstoneel deur die nooddienspersoneel dood verklaar.”
Maxine en Hakeem is albei bekend in die gemeenskap, veral onder die jeug.
Roerende huldeblyke en boodskappe van vertroosting vir die familie van die ontslape Maxine, wie se pa haar sowat ’n jaar gelede ontval het, het op die sosialemediaplatform Facebook ingestroom.
Die beseerde Mohammed is ook beterskap en ’n spoedige herstel toegewens.
Van die Facebook-gebruikers het gesê hulle hou hom in hul gebede.
Darryl David Bottrie skryf onder meer: “Sterkte aan suster Marilyn Antonie en die res van die familie met hulle verlies en ons bid dat die Almagtige hulle sal vertroos in hierdie tyd. Aan die Mohammed-familie – ons gebede gaan uit vir vinnige herstel vir Hakeem.”
Maxine se gebroke moeder het op een van die medelye-inskrywings haar verlies en pyn só verwoord: “Oooh, Mammie se blompot. Vandag is ek baie stukkend, maar ek weet ook, hierdeur sal die Here my dra. Mag jy in vrede rus. Nie geweet jy is so kort vir my geleen nie. Fly high till we meet again.”het Marilyn geskryf.
“Dis bitter seer… ’n Mooi, pragtige jong meisie. Alle sterkte aan haar ouers en res van die familie. Ons het nie woorde om die seer weg te vat nie. Die woorde is min. Maar met tyd sal God die seer wegvat. Rus in vrede Maxine Antonie,” het Vernon Brown van Ashton gesê.
Die Montagu Farewell Platform (MFP) sê in sy huldeblyk: “Soos die son vanoggend gereed gemaak het om sy eerste straal te laat skyn, het die son vir Maxine Antonie finaal gesak.
“Jy was so pragtig – beeldskoon. Hier sit julle vandag, nog nie regtig oor jou pa se dood nie. En nou moet julle weer die paadjie stap. Jy het op die punt gestaan om ’n nuwe loopbaan te begin, en ons was bly, maar nou het jy reggemaak vir ’n ander loopbaan in Hemel-land. Rus sag, ons dimpel-kind, jou ma se ewebeeld,” sluit MFP af.
Ardene Tabata, wat vir Maxine by die AGS Kerk Fresh Air Montagu in Sondagskool onderrig het, sê op haar Facebook-blad: “My eerste Sondagskoolkind wat ek aan die dood afstaan. My Maxine Antonie-kind. My hart is stukkend. Ek het nie woorde nie. Ek wil nie dink nie. Asemhaal is seer.”
Maxine word is Sondag (29 Januarie) ter ruste gelê.
Na verneem word is Mohammed weens die ernstige aard van sy beserings op dieselfde dag van die noodlottige botsing na ’n Kaapse hospitaal oorgeplaas.
Meyer het verder gesê ingevolge wetgewing is ’n saakdossier van strafbare manslag geopen vir verdere ondersoek.



