’n Jongeling van Robertson met ’n passie om interessante disse en gebak op te tower, is die trotse eienaar van haar eie tuisbakkery, Flourish Eatery.
Kara Schutz (12) is bedags ’n doodgewone skoolleerder, maar verruil haar skoolboeke vir ’n voorskoot sodra sy haar boeke vir die dag toemaak.
“Ek ontvang tans tuisonderrig en geniet dit vreeslik baie. Dit laat my toe om my passie vir kosmaak uit te leef en nuwe gebak uit te toets,” vertel sy aan Gazette.
Alhoewel Kara in Hermanus gebore is, woon sy al die grootste deel van haar lewe op die platteland. Dit is hier waar haar passie vir kos ontstaan het.
“My ouma, Corlie Louw, is oorspronklik van Robertson en my ma, Karien Schutz, het ook haar skoolloopbaan in Montagu voltooi. Ek is absoluut gek oor die platteland, want dit is hier waar ek my passie ontdek het.”
Kara is vandat sy vier jaar oud is, toegelaat om tyd in die kombuis saam met hierdie belangrike vroue in haar lewe deur te bring. Sy het aanvanklik net gesit en hulle dopgehou en bietjie vir bietjie met haar oë geleer, waarna sy toe begin hand bysit het totdat sy self agter die stuur van sake gestaan het.
“Ek het later die vryheid gehad om te maak nes ek wou. Ek kon bestanddele gebruik om enigiets te skep en ek is baie dankbaar dat ek toegelaat is om só te leer,” voeg die jongeling by.
Hoewel sy tans tuisonderrig ontvang, is sy geweldig besig. As sy nie perdry nie, is sy heel moontlik agter haar kitaar of in die kombuis.
“My gunstelingvak is sosiale wetenskappe, maar my ma het selfs vir my ’n huishoudkunde-studiegids gekry waaruit ek werk.”
Kara het begin om koeke te bak – van wortelkoek tot suurlemoen-meringue en enigiets wat haar verbeelding haar toegelaat het. Toe die inperking tref, het sy besluit om met lekkernye geluk aan inwoners te bring.
“Ek het met my ouers se hulp besluit om ’n opwipwinkel op te rig en weekliks gedurende die inperking aan mense van my omgewing gebak gelewer. My ma is ’n funksiebeplanner, en toe alles tot stilstand kom, wou ek iets doen. Mense het regtig my gebak ondersteun. Daarna het die lewe weer aangegaan, maar my besigheid het aanhou floreer. Ek bak van die huis af en dan kan mense dit oplaai of ons lewer dit af. My pa, Ludwig, adverteer dit sommer op WhatsApp en soms verkoop dit sommer vinnig uit,” vertel sy blinkoog.
Kara het ook al die spyseniering by verskeie geleenthede gedoen en geniet die uitdaging om ander se drome te bewaarheid.
Sy het ook al talle troukoeke gemaak.
“Die kombuis is waar ek op my gelukkigste is. Ek het soveel geleer danksy my ma, my ouma en selfs my tannie, Adri Morel, wat na my mening een van die beste sjefs in die Wes-Kaap is.”
Sy mors ook nie met kos nie en haar gunsteling-aktiwiteit is om oorskietkos in iets interessant om te tower – soos haar beroemde gebakte appelkrummel met bloubessies en suurlemoensmeer.
Haar droom is om haar skoolloopbaan so gou as moontlik te voltooi en haar verder as entrepreneur te vestig.
“My ouers het my baie oor besigheid geleer en ondersteun my geweldig baie. My ma was self ’n jong sakevrou, en dit is my droom ook.”





