’n 117 onderwysposte gaan in die Weskus-onderwysdistrik, wat die Swartlandstreek insluit, gesny word. Dit volg nadat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) in Augustus die nuus aan skole bekend gemaak het dat 2 407 poste in die provinsie beëindig sal moet word.

Die WKOD het skole op 30 Augustus in kennis gestel hoeveel poste by elkeen weens die besnoeiing van die “mandjie onderwysposte vir 2025” geraak sal word.

Inwoners van Malmesbury was ontsteld toe die nuus dat vier onderwysers by een van hul skole en ’n verdere vyf by ’n ander skool in die omgewing hul poste gaan moet verlaat.

Schoonspruit Sekondêr verloor vier poste as deel van die afleggingsproses van die WKOD, het die skoolhoof, Raynard de Jager, bevestig. Volgens De Jager is hulle nog besig om te bepaal wie die vier onderwysers gaan wees aangesien verskeie faktore in ag geneem moet word.

“Dit gaan ’n groot uitwerking op die skool hê. Ons gaan ons aantal seksies moet verminder, leerkragte gaan met groter klasse sit en leerkragte gaan met meer kinders per vak sit, wat nie ideaal vir ons strewe na gehalte-onderrig is nie. Die skool sal net soos ander skole by hierdie nuwe normaal moet aanpas.”

De Jager is egter verlig om te hoor die onderwysers wat geraak word, sal by die skool aanbly totdat hulle geskik by ’n ander skool geplaas word en sal dus nie noodwendig hul werk verloor nie.

Volgens David Maynier, die provinsiale minister van onderwys, doen die departement alles in sy vermoë om vir die onderwysers te veg, maar die nasionale regering laat hulle met min opsies nadat slegs 64% van die totale koste van die nasionale loonooreenkoms ontvang is. “Dit beteken die provinsiale regering moet die oorblywende 36% finansier. Ongeag die drastiese begrotingsbesnoeiings van R2,5 miljard, [kyk] ons steeds na ’n tekort van R3,8 miljard oor die volgende drie jaar.”

Volgens die minister is die departement met geen keuse gelaat as om die mandjie onderwysposte vir 2025 te besnoei om fiskaal stabiel te bly nie.

Maynier het op navraag of al die betrokke onderwysers hul werk gaan verloor, aan die Gazette bevestig dat kontrakte wat op 31 Desember verstryk, nie hernu sal word nie. “Sommige permanente onderwysers gaan wel gevra word om na ’n ander skool met geskikte vakante posisies te skuif.” Hy het onderwysers en ouers daaraan herinner dat ongeveer 2 100 onderwysers die stelsel jaarliks verlaat. “Vakatures sal dus beskikbaar wees vir permanente onderwysers en waarvoor onderwysers met ’n kontrak sal kan aansoek doen,” het hy gerus gestel.

Die formule wat bepaal hoe die aantal onderwysersposte tussen die skole verdeel word, is volgens ’n ooreenkoms met onderwysunies deur die nasionale regering voorgeskryf. “Ons kan nie van daardie ooreenkoms afwyk nie,” sê Maynier. “Die formule neem klasgroottes, die werkslading van onderwysers, taal, kurrikulum, armoede en ander faktore in ag.”

Skole sal voortaan met hul distrikskantoor saamwerk om te bepaal watter poste geraak word en oor die volgende paar weke met die onderwysers in dié spesifieke poste kommunikeer.

“Die besluit deur die nasionale regering om nie die 2023- meerjarige loonooreenkoms te finansier nie, het ’n fiskale noodgeval in al die provinsiale onderwysdepartemente veroorsaak. Daarom werk alle provinsies nou deur die Raad van Onderwysministers (CEM) saam om die Nasionale Tesourie met ’n helder prentjie oor die verwoestende gevolge van die besluit te nader. Ons moedig politieke leiers, unies, aktiviste en ouers aan om saam met ons te baklei eerder as teen ons, vir gehalte-onderwys en vir ons onderwysers,” het Maynier aangemoedig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article