Nog 10 huise is Woensdag aan begunstigdes van die De Hoop-behuisingsprojek in Malmesbury oorhandig.
Die Swartland-munisipaliteit is tans in die eerste fase van die behuisingsprojek, waarin altesaam 395 huise gebou en aan begunstigdes oorhandig word.
Die nuwe huiseienaars is hoofsaaklik pensioentrekkers wat hul nuwe huise met trane van blydskap ontvang het.
Die uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas, en die minister van provinsiale regering, Tertius Simmers, het saam die 10 huise oorhandig.
Volgens Cleophas het die bou van die eerste 200 huise in Oktober 2021 begin.
“Die bouwerk aan die eerste fase sal na verwagting in Januarie 2023 voltooi wees en dit is ’n prioriteit vir die munisipaliteit om begunstigdes te laat intrek sodra die huise voltooi is, om onwettige besetting en vandalisme te vermy,” sê hy.
Dit bring die aantal huise wat sedert April 2022 aan begunstigdes oorhandig is, op 134 te staan.
Cleophas sê behuising bly ’n uitdaging aangesien munisipaliteite slegs die implementeringsagente is.
“Dit is nie ’n munisipale bevoegdheid nie, en alle projekte is afhanklik van die goedkeuring en finansiering van die nasionale en provinsiale regering,” sê Cleophas.
Hy sê die belange van die inwoners geniet voorkeur en daarom werk hulle hard om die besluite wat deur staatsdepartemente geneem word, suksesvol deur te voer om so veel as moontlik behuisingsgeleenthede te skep.
Volgens Cleophas is nog ’n uitdaging die immer groeiende behuisingslys en die beperkte geskikte persele vir behuisingsprojekte.
“Ons verbintenis is egter om voort te gaan om met alle belanghebbendes saam te werk om so veel as moontlik volhoubare geleenthede te skep,” sê Cleophas.
Cleophas sê huiseienaarskap is nie passief nie, maar aktief.
“Dit sluit die versorging van jou huis, jou eiendom, jou straat en jou woonbuurt in. Om ’n aktiewe huiseienaar te wees, skep sterk gemeenskappe wat wys dat hulle omgee,” sê hy.
Simmers en Cleophas het die lint saam met die inwoners as deel van die onthullingseremonie geknip.
“Ek is baie dankbaar om vandag hier te kan staan en julle te kan verwelkom deur die sleutels aan julle te oorhandig,” het Simmers gesê.
“Julle geduld en samewerking is die rede dat julle vandag met ’n glimlag in jul nuwe huise kan instap.”
Simmers het gesê hierdie behuisingsprojek word as ’n woonbuurt vir pensioentrekkers beskou.
“Woon lekker en maak hierdie huise ’n woning van liefde,” het Simmers gesê.
Grietjie Skippers, een van die inwoners wat haar nuwe huis ontvang het, sê sy is baie tevrede en gelukkig.
“Ek is 60 jaar oud en het in 2001 aansoek gedoen vir my lieflike huis,” het Skippers gesê.
Volgens haar het die huis twee slaapkamers en sy sal saam met haar dogter Leh-Andre Swarts daar woon.
“Baie dankie aan die De Hoop-gemeenskap en die munisipaliteit wat my in my nuwe huis verwelkom het,” het sy bygevoeg.
“Ek is baie dankbaar vir hierdie geleentheid, want dis net ons Hemelse Vader wat my so ver gebring het wat my gesondheid betref, en Hy is baie goed vir my. Al die eer gaan na Hom toe – en my familie,” het Skippers, wat ’n rolstoel gebruik, gesê.




