Tannie Bessie Steenkamp word binnekort 92, en sonder om dit so te beplan, het sy pas haar 1 000ste bidbeer klaar gebrei.
“Dis nogals ’n springbokbeer – die mense hou baie van hulle.”
Hierdie inwoner van Huis Bergsig in Riebeek-Wes se hande is nooit stil nie, want sy het pal breinaalde wat wikkel en klik en brei; ry ná ry ná ry.
Tannie Bessie kan nie onthou wanneer sy by hierdie bidbeerbreiery betrokke geraak het nie, maar weet wel dit gee splinternuwe betekenis aan haar lewe.
“Ek slaap snags baie min. Selfs wanneer ek slaappille drink, word ek gou weer wakker. Wanneer ek wakker is, begin ek maar brei, en soos die naam sê, bid ek heeltyd vir die een wat hierdie beer gaan ontvang.
“Dit beteken vir my so baie om te dink – al woon ek in ’n ouetehuis, verkondig my bidbere die Here se liefde reg deur Suid-Afrika; ook oorsee, want ’n klompie van my bere is reeds in Engeland, Indië en Kanada.
“Ek is baie dankbaar vir An Roets – dit is sy wat die bidbeerkonsep ontwikkel en Swartland toe gebring het. Hierdie breiery laat my elke dag besef ek het steeds ’n belangrike doel hier op aarde.”
Tannie Bessie is in Worcester gebore en het daar grootgeword. Ná haar huwelik met ’n Karooboer het hulle 12 jaar lank buite Sutherland geboer.
“Met die vreeslike droogte van 1970 moes ons alles verkoop en Boland toe trek. Ons moes hard werk om weer ons voete te vind.
“Ná 50 jaar in Malmesbury woon ek nou in Riebeek-Wes. Ek sê elke dag dankie vir die Here dat my sintuie, verstand en bene nog so goed werk.
“My regterhand raak soms styf; my linkerhand is heeltemal styf. Volgens die dokter is ek in die beginfase van Parkinson’s en dit veroorsaak die slaaploosheid, maar ek fokus nie daarop nie.
“Saans smeer ek my met ’n bietjie salf; deur die dag dink ek glad nie aan my pyne nie.”
Tant Bessie onthou die eerste trui wat sy as 14-jarige vir haarself gebrei het. “So ’n wit-en-rooi trui. My man en kinders het nooit gekoopte truie gedra nie – ek het almal gebrei. Verder was ek lief vir hekel en lintborduurwerk.
“Ek wou van jongs af altyd op ’n Vrydagaand my week se produktiwiteit meet; in my kop uitwerk hoeveel het ek gebrei en gebak en geskep. Ek was nog nooit een wat ledig rondsit nie; ledigheid is die duiwel se oorkussing.”. ‘Mense wat inspireer’ is ’n nuwe reeks artikels wat handel oor gewone mense wat in hul daaglikse bestaan dinge op so ’n manier doen dat dit ander inspireer. Dikwels besef hierdie mense nie eens dat hulle ware inspireerders is nie.




