Die Stellenbosch-munisipale raad sal aanstaande week besluit of waterbeperkings ingestel moet word.
Dit is weens die dalende watervlakke van damme in die provinsie en die plaaslike Idasvallei-dam, wat verlede week slegs 30% vol was.
Anton Bredell, die minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning vir die Wes-Kaap, het verlede week met munisipale beamptes van onder meer Stellenbosch vergader om watersekuriteit sowel as voorkomingsmaatreëls te bespreek om die voortslepende droogte die hoof te bied.
Volgens Bredell is werk nou aan die gang om die Kleinplasie-dam deel van die plaaslike munisipale water-netwerk te maak en verskeie boorgate beskikbaar te stel om die vraag na water aan te durf. “Gesien in die lig van die provinsiale droogteklassifikasie en die Suid-Afrikaanse Weerdiens se voorspelling van ‘n ondergemiddelde reënval in die winter, beveel ons sterk aan dat Stellenbosch waterbeperkings as ‘n voorsorgmaatreël oorweeg,” het Bredell gemaan.
In reaksie daarop sal die Stellenbosch-munisipaliteit, wat inwoners reeds gevra het om hul watergebruik met minstens 15% te verminder, op Vrydag 27 Februarie se raadsvergadering besluit of amptelike waterbeperkings ingestel moet word.
Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die munisipaliteit, het by navraag gesê geen beperkings bestaan tans nie, maar gesien in die lig van die warm, droë somer word inwoners gevra om hul deel te doen.
Stellenbosch ontvang water van die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel (WCWSS), wat die damme Theewaterskloof, Bergrivier, Bo Steenbras, Laer Steenbras, Wemmershoek en Voëlvlei insluit. Hierdie stelsel word deur die Stad Kaapstad bestuur. Woensdag (18 Februarie) was die gesamentlike watervlak van die WCWWS 57% – ‘n aansienlike afname teenoor 76.2% verlede jaar dieselfde tyd.
Waterbeperkings is reeds deur ander munisipaliteite in die provinsie ingestel met die Beaufort Wes-munisipaliteit wat reeds vlak 3-waterbeperkings ingestel het, waarna vlak 4-beperkings van 1 Maart af sal geld. Onder hierdie beperkings sal huishoudings tot 10Kl per maand beperk word.





