Skryf nou in vir Weg-stapfees.
Die Weg-stapfees word vroeg volgende jaar weer gehou.

Stappers kan begin strek vir die volgende fees in samewerking met Salomon en Cape Union Mart. Die fees word van 20 tot 22 Februarie 2026 by Meerendal buite Durbanville aangebied.

Die Weg-stapfees bied ’n bederf vir stappers. Dit behels ’n naweek waartydens stappers hul fiksheid vir die Vis-, die Otter- of die Amatolaroete in die veld kan toets en sommer lekker kan gesels met ander mense wat versot is op stap. Dit werk soos ’n pretloop, maar ‘n mens stap.

Die eerste twee Weg-stapfeeste, in 2024 en vanjaar, was albei baie suksesvol en is deur duisende stappers bygewoon. Die inskryfproses vir die Kaapse Weg-stapfees vir 2026 is nou oop.

Afstande

  • Vrydag 20 Februarie: ’n 6km-staptog word om 18:00 aangepak, geskik vir die hele gesin.
  • Saterdag 21 Februarie: Neem aan die 6km-, 12km- of 21km-staptog deel. Deelnemers aan die verskillende pret-staptogte spring op verskillende tye weg, maar almal vroegoggend.
  • Sondag 22 Februarie: Pak die 10km-staptog aan, om 07:00.

Die feesterrein is weer op die grasperk langs die proelokaal, en vanjaar sal daar koffie- en kosstalletjies wees. Bier word ook verkoop. By die ekspo-ruimte gaan besoekers verlei word deur die borge, Salomon en Cape Union Mart, se nuutste toerusting. Solal bederf die stappers op ’n heerlike manier.

Wat die roetes betref, is ’n paar veranderings aangebring. Die kort afstande, sowel as die Sondagroete, bly dieselfde. Op die Saterdag sal die 12km-stappers in 2026 ’n heel nuwe roete stap, en die 25km-roete word na 21km ingekort. Slegs die langste afstand, die 21km, sal in 2026 oor Dorstberg strek.

Stappers wat nie in die omgewing woon nie, kan een van die kamers in die boetiekhotel op Meerendal bespreek of in een van die gastehuise in Durbanville bly. Bespreek plek in die hotel op Meerendal by dieselfde skakel waar vir die stapfees ingeskryf word.

Voorbereiding

  • Die staptogte is alles op gruis- en grondpaaie – nooit teer nie. Die 2 km-roete loop oor Dorstberg (’n stywe bult op los klippe) en gewone tekkies gaan nie die mas opkom nie.
  • Veral die 21km-roete is ’n stewige stappie en deelnemers word aangeraai om goed voor te berei.

Skryf in by wegstapfees.topevents.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article