`n Gebarste pyp het die sinkgat veroorsaak.
`n Gebarste pyp het die sinkgat veroorsaak.

KAAPSTAD – Inwoners in Arauna, `n woonbuurt in Brackenfell kon hul oë nie glo nie toe hulle Donderdagoggend wakker word, want daar was `n sinkgat in die pad, so groot `n hele motor kon daar inpas.

Die enorme sinkgat naby die hoek van Rogland- en Goedehoopstraat langs die Hoërskool Brackenfell is klaarblyklik veroorsaak deur `n pyp wat die vorige nag gebars het. Die paaie om die sinkgat is al vroegoggend deur verkeersbeamptes afgesper.

“`n Mens kan duidelik die sand in die pad sien waar water afgeloop het,” sê die skoolwoordvoerder Reinhardt Hamman.

Die skool se geografie-onderwyser Jorinda Coetzee het leerders en inwoners in `n videoboodskap gemaan om liefs nie naby die sinkgat te kom nie.

“Die sinkgat het gevorm nadat `n waterpyp laasnag gebars het. Dit kan wees as gevolg van druk op die waterstelsel in `n groeiende gemeenskap,” het sy gesê. “Die grond om die sinkgat is onstabiel as gevolg van gronderosie en kan baie gewaarlik wees,” het Coetzee gewaarku.

Verkeer is afgesper
Verkeer is vroegoggend afgesper

Hamman sê daar was drie weke terug `n groot waterbars by ‘n verkeerslig in Brackenfell Boulevard, wat `n paar blokke van die skool af is. Volgens hom het die pyp die afgelope twee jaar gereeld gebars.
Twee dae na die sinkat verskyn het, het nog `n groot pyp Vrydag in Sonetsingel net om die draai van Goeiehoopstraat gebars. Water is meters hoog in die lug in gespuit.

Infrastruktuur is oud

Volgens Leon Brynard van die Noordelike Distrik Gemeenskapsforum word die gedeelte van Brackenfell gereeld gepla deur waterpype wat bars. “Daar is `n toename in waterpype wat bars, nie net in Aruana nie, maar ook in omringende woonbuurte,” sê hy.

“Ook in Vredekloof sien ons meer pype bars, veral nadat waterdruktoetse gedoen is. Die infrastruktuur is maar oud en dalk is dit nou tyd vir opknapping,” sê hy. Hy voeg by dit is kommerwekkend dat soveel water verlore gaan elke keer as `n pyp bars. “Dis hartseer, veral as jy daaraan dink dat die infrastruktuur al lankal opgeknap moes word.

Dit is hartseer dat daar soveel liters water verlore gaan as ‘n pyp bars, en die infrastruktuur moes lankal gediens gewees het, juis in ‘n tyd dat ons nou baie spaarsamig met water moet wees.

Twee dae later het nog `n pyp in `n nabye straat gebars
Twee dae later het nog `n pyp in `n nabye straat gebars.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, het aan TygerBurger gesê `n kontrakteur is aangestel om die pyp te vervang en die sinkgat so gou moontlik te herstel.

Volgens Badroodien is nuwe pype in 2025 in Brackenfell geïnstalleer.

“Sedert die begin van die 2025-’26-boekjaar is 1 753 meter pype in die gebied vervang. Toekomstige projekte word beplan vir Maart wanneer 1 800 meter pype vervang sal word,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article