Vista

Ses versorgers weer in Welkom-hof ná bejaarde glo met kleefband gemuilband is

Die ses beskuldigdes in die landdroshof in Welkom Credit: Madli Grobbelkaar

Die saak teen die ses beskuldigdes wat ‘n 81-jarige vrou by ‘n versorgings- en aftreeoord in Welkom na bewering mishandel het, is vandag weer in die landdroshof in Welkom aangehoor.  Die saak is tot Vrydag 7 November uitgestel, sodat die beeldmateriaal wat aan die owerhede verskaf is verder ondersoek kan word.  

Die beskuldigdes, Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Mapaseka Majorobella (35), Nomsa Ngcongwane (56), Mofolo Ntswaki (30) en Puseletso Moloi (33) word aangekla van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering, mishandeling en die oortreding van die Wet op Ouer Persone 13 van 2006.

Die beskuldigdes is op 9 en 14 Julie in hegtenis geneem. Tydens ‘n vorige hofverskyning is getuig dat die beeldmateriaal toon hoe Brummer bo-op die 81-jarige Bettie Payne, ‘n inwoner van die aftreeoord, sit en haar mond met kleefband toeplak terwyl die personeel staan en toekyk. Die ontstellende video het groot opslae gemaak.

Die 81-jarige Bettie Payne van Welkom, wat glo deur die ses beskuldigdes aangerand en mishandel is, sterk goed aan, volgens haar dogter, Mariana Payne. Credit: Verskaf

Mariana Payne, Bettie se dogter, wat die hofverrigtinge op 18 September bygewoon het, het aan Vista bevestig dat dit goed gaan met haar ma onder die huidige omstandighede.

Vista het ook verneem dat die aftreeoord intussen aan nuwe eienaars verkoop is.

Louis Botha, die beskuldigdes se regsverteenwoordiger het aan Vista bevestig dat die saak vir verdere ondersoek tot Vrydag 7 November uitgestel is.

Die landdros is Mbuyiselo Khapha.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article