Die rugbyseisoen skop vir Hoërskool Rustenburg met ‘n knal af, met die Noordwesters wat hulself in die diep kant ingooi met ‘n weg-wedstryd teen Trio van Kroonstad op 7 Maart. Geen gemaklike opwarming nie.
Naas Olivier, direkteur van rugby by Rustenburg, is nie skaam vir die uitdaging nie.
“Ons is reg om te gaan,” het hy met selfvertroue gesê. Sy span is honger vir aksie ná die afseisoen.
Die Kroonstad-span sal sake op tuisbodem wil regstel nadat hulle verlede week die knie moes buig. In gure weerstoestande het Grey College die manne van Trio met 38-12 afgeransel.
Quintin Geldenhuys, direkteur van rugby by Trio, benader die wedstryd as ‘n goeie toets vir hoe sy span tot dusver in voorbereiding gevorder het.
“Laas week was maar ‘n harde wedstryd gewees. Rustenburg is ‘n goeie span wat daar in die Virseker-beker speel. Ons sien uit om die wedstryd hierdie jaar by ons aan te bied. Dit gaan lekker interessant wees,” het hy gesê.
Vir Trio is die druk hoog – dit is die laaste geleentheid om verstellings te maak voordat hulle volgende week hul Wesgrow-reeks teen Diamantveld afskop. Elke skrum, elke lynstaan, elke verdedigende patroon moet nou reg.
Rustenburg het egter die luukse van ‘n langer voorbereidingspad. Nog ‘n paar taai voorseisoen-kragmetings, onder meer teen Noordheuwel en HTS Middelburg, en die Noord-Suid-toernooi wag voor die groot een: die Virseker Noordvaal-beker wat in Mei teen Waterkloof afskop.
Albei spanne het alles om voor te speel. Trio soek verlossing ná verlede week se moeilike wedstryd. Rustenburg wil momentum bou vir die uitdagings wat voorlê. Kroonstad, maak gereed – daar kom Saterdag vuurwerk.





