Deur Leandri Wahl
Die groot bohaai
Dit is maklik om skepties oor velsorg te raak wanneer jy elke dag van ‘n nuwe bestanddeel lees wat ‘n “wonderwerk oornag” of “botoks in ‘n botteltjie” beloof. Al is dit wonderlik dat daar konstante wetenskaplike vernuwings en ontwikkeling in die velsorgwêreld voorkom, kan dit oorweldigend raak, en laat jou uiteindelik wonder wat jy regtig nodig het. Peptiede is een so bestanddeel, en word deesdae oral gesien, maar met goeie rede.
‘n Groot deel van die huidige gewildheid spruit uit ‘n behoefte aan velsorg wat die velversperring versterk en die gebruik van sagter, langtermyn-aktiewe bestanddele, eerder as hoë intensiteit of “aggressiewe” bestanddele. Hoewel peptiede dikwels as ‘n “wonderbestanddeel” gesien word, sê baie dermatoloë en kenners in die veld dat die voordele daarvan eerder geleidelik as onmiddellik is.
Konsekwentheid is dus noodsaaklik, en hoewel “peptiede” ‘n sambreelbegrip geword het, is daar eintlik verskeie soorte wat in velsorg gebruik word, elk met sy eie spesifieke doel. Seinpeptiede stimuleer velselle om meer kollageen te produseer, terwyl draerpeptiede help om spoorelemente te lewer, wat die vel se herstelproses ondersteun.
Die meeste formules kombineer egter verskeie peptiede om fermheid, elastisiteit en algehele velgesondheid vanuit verskillende hoeke te hanteer, asook die vermoë om helderheid te verbeter deur die produksie van melanien te belemmer. Daar is ook bewyse wat toon dat peptiede voordelig vir haargroei kan wees deurdat dit gesonde, voller groei kan aanmoedig, maar weereens, met gereelde gebruik.
Verskillende peptiede
- Seinpeptiede
- Koperpeptiede
- Draerpeptiede
- Ensiem-inhiberende peptiede
- Neuro-oordrag-inhiberende peptiede
Wees bedag – Die gevare van ongereguleerde inspuitings
Jy het dalk al van inspuitbare peptiede gehoor. Dis iets wat op sosiale media bemark word vir onder meer spiergroei, herstel, teenveroudering, vetverlies of beter slaap, maar daar is ‘n groot risiko ten opsigte van regulasies, dosis, besmetting en gehalte. Sien liewer ‘n mediese professionele persoon of velkliniek voor jy dit self probeer verkry en gebruik.
Peptiede in jou roetine
Met die oog op ‘n eenvoudiger roetine, wat langtermyn-velgesondheid en stadiger veroudering insluit, kan peptiede basies saam met enige ander bestanddele gebruik word. Dit werk veral goed saam met bevogtigende en kalmerende bestanddele, soos hialuronsuur, niasinamied en seramiedes, asook retinol en vitamien C om kollageenproduksie verder aan te moedig.
Wees egter versigtig met afskilferaars soos glikolsuur en salisielsuur omdat dit die verbindings kan afbreek en die doeltreffendheid kan verminder. Dit is veilig vir alle veltipes, en kan soggens en saans gebruik word, verkieslik in ‘n aanlos-formule soos ‘n serum of room.
Hierdie is ‘n uittreksel van ‘n berig in Oktober 2026 se tydskrif. In die tydskrif verduidelik ons verder hoekom mense peptiede gebruik en raai produkte aan. Ons klop ook aan by Dr Judey Pretorius, Biomedical Emporium se bionmediese wetenskaplike en stigter om algemene vrae oor peptiede te beantwoord.
Lees ook: Behandel só aknee, psoriase en ekseem | rooi rose
