Deur Leandri Wahl
Aknee
Aknee is een van die algemeenste veltoestande ter wêreld en kan op verskillende dele van jou liggaam ervaar word, op verskillende ouderdomme en onder verskillende omstandighede gebeur wanneer porieë verstop word met oortollige olie, dooie velselle en ‘n bakterie met die naam Propionibacterium acnes (P. acnes). Daar is verskeie faktore wat tot aknee kan bydra en dit bepaal die tipe aknee wat jy kan ervaar.
Ontsteekte aknee kan deur die voorkoms (en gevoel) van ‘n rooi, opgeswelde knop wat pynlik en warm voel geïdentifiseer word. Dit het nie ‘n wit koppie soos nie-inflammatoriese (komedonale) aknee nie, en lê baie dieper onder die vel.
Komedonale aknee lê dus nader aan die oppervlak van die vel en vertoon as wit koppies. Albei tipes aknee kan gedurende puberteit voorkom, maar kan ook in latere jare ‘n nare verskyning maak, wat dan as hormonale aknee geklassifiseer word.
In alle gevalle is dit belangrik om nooit daaraan te karring nie, omdat dit sake net kan vererger, veral wanneer siste begin vorm. As jy aan jou puisies druk, kan dit letsels vorm en die bakterieë net dieper in die vel indruk. Swartkoppies, hoewel dit nie noodwendig as aggressiewe aknee geklassifiseer word nie, moet ook versigtig hanteer word, omdat dit ook letsels kan vorm as ‘n mens te hard daaraan druk. Swartkoppies is komedone (porieë) wat verstop word met olie en dooie velselle, maar word as gevolg van oksidasie donker van kleur. Wit, of oop, komedone (witkoppies) oksideer dus nie, en albei vorme kan deur enigiemand ervaar word. Aknee, wit- of swartkoppies word nie deur vuilheid veroorsaak nie — dis ‘n mite.

Aknee. Foto: Polina Tankilevitch, Pexels
Veroorsaak suiker aknee?
Suiker alleen veroorsaak nie aknee nie en, soos met enigiets in die lewe, is matigheid en balans belangrik. Koolhidrate soos verfynde suiker, brood en gaskoeldrank dra by tot die styg van insulienvlakke, wat tot inflammasie in die liggaam lei. Dieselfde geld vir suiwelprodukte, wat al bewys is om inflammasievlakke op te stoot. Baie mense maak die fout om vetvrye suiwelprodukte te gebruik, wat vetoplosbare groeihormone bevat. Omdat daar dan geen vet in die produk is nie, bly die groeihormone glo oor en vererger die aknee. Fokus eerder op kosse wat ‘n lae glisemiese inhoud het, en ook heelkosse, groente, en as jy ‘n suikertand het, donkersjokolade. Dis belangrik om ‘n dermatoloog te konsulteer wanneer aknee buite beheer raak, pynlik is, of jou daaglikse roetine beïnvloed.
Sorg produkte met die bestanddele:
- Salisielsuur
- Glikolsuur
- Niasinamied
- Retinol
- Teeboomolie
- Sink
- Benzoylperoksied
Produkte wat help:
- Biretix Duo Anti-Blemish Gel R460, Dermastore
- REN Clearcalm Non-Drying Spot Treatment R670, Wellness Warehouse
- The Ordinary Salicylic Acid 2% Masque R300, ARC
- Avène Cleanance AHA Exfoliating Serum R615,95, www.lebeautyclub.co.za
- Fundamentals 5% Glycolic Acid Water Serum R149, www.fundamentals-skincare.co.za
- Eucerin DermoPurifyer Triple Effect Serum R430, Clicks
- Dermalogica Age Bright Clearing Serum R1 699, ARC
Praktiese wenke
Stort onmiddellik na enige oefening of wanneer jy gesweet het. Maak seker jy drink genoeg water — dit is buitendien iets wat vir alle veltoestande help. Was jou hare en kussingslope gereeld. Moenie aan jou gesig vat nie.
Wees versigtig met boererate — goed soos appelasyn en tandepasta vererger sake omdat dit glad nie met die vel se pH saamstem nie, en in meeste gevalle die irritasie en inflammasie net gaan vererger.
Gaan sagkens te werk — aggressiewe behandeling is nie altyd beter nie.
Oorweeg professionele behandelings, soos afskilferings om tekstuur te verbeter, en laser, ligterapie en mikronaald-behandelings om letsels te verminder — hierdie behandelings bestaan juis om hierdie rede.
Wees geduldig en weet dat aknee nie ‘n lewenslange straf is nie — met deesdae se produkte en behandelings kan dit vroeg behandel en voorkom word.
Bevogtigers is nodig
Net omdat jy dalk meer olierigheid saam met aknee ervaar, beteken dit nie dat jy jou vel so droog as moontlik moet probeer hou nie. Ligte bevogtigers help om olieproduksie te reguleer deur die regte seine na jou vel te stuur. Jou vel besef dat daar genoeg vog teenwoordig is en dat ekstra olie of sebum nie nodig is nie. Dit geld ook vir sonroom. Aktiewe bestanddele en voorskrifprodukte kan jou vel ekstra sonsensitief maak, wat sonroom ‘n noodsaaklikheid maak om die verdonkering van letsels, droogheid en sensitiviteit te vermy.
Produkte wat help:
- Bioderma Photoderm AKN Mar SPF30 Acne-Prone Skin R385, Takealot
- La Roche-Posay Anthelios UVMUNE 400 Oil Control Fluid SPF50+ R360, Dis-Chem
- Heliocare 360° Gel Oil-Free SPF50 R584,99, Dis-Chem
Psoriase
Psoriase is ‘n chroniese inflammatoriese outo-immuuntoestand wat ontsteking van die epidermis veroorsaak, en tot dusver is daar geen kuur nie. Dit kom voor as rooi, jeukerige kolle wat op enige deel van die liggaam kan verskyn. Daar is verskeie tipes psoriase, met plaak-psoriase as die algemeenste, asook variasies waar dit op die kopvel, naels en in die waaie van jou arms, bene, onderarms, en dies meer voorkom. Soos met aknee, kan emosies en stres grootliks tot die verergering van simptome bydra, maar die temperatuur, sekere kosse, allergene en sekere medikasies kan ook ‘n rol speel. Dit word dikwels met ekseem verwar, en kan dan verkeerdelik behandel word, veral as jy dit self probeer opklaar of diagnoseer.

Plaak psoriase. Foto: Nopsor USA
Ekseem kan amper dieselfde lyk, maar die droë vel vorm nie skubberige kolle nie, en maak gewoonlik al van geboorte af ‘n verskyning. Dit is ook makliker om te behandel en voel gewoonlik net meer droog en jeukerig as enigiets anders. In albei gevalle is dit noodsaaklik om ‘n dermatoloog te sien sodat die regte behandeling voorgeskryf kan word. Met ekseem sal ‘n mens meer op die velversperring en behandeling van die simptome kan fokus, terwyl die fokus by psoriase sal wees om die simptome en oorsake te beheer, en nie noodwendig te genees nie.

Ekseem. Foto: Hudson Dermatology and Laser Surgery
Praktiese wenke
Herstel die velversperring met bevogtigende, eenvoudige produkte wat vog herstel. Moenie ‘n te warm stort of bad kies nie — dit dra tot onnodige vogverlies by. Steroïed-formules sal deur jou dermatoloog voorgeskryf word, en help in albei gevalle om die irritasie en inflammasie te verminder. Vermy produkte wat alkohol bevat. Wees uiters versigtig met afskilferaars, soos alfa- en betahidroksiesure, asook gesig- of lyfskrop.
Soek produkte met die bestanddele:
- Seramiedes
- Aalwyn
- Gliserien
- Hawermout
- Aktiewe bestanddele, soos salisielsuur, maar in beheerde hoeveelhede
Produkte wat help:
- Cetaphil Pro Eczema Prone Skin Restoring Moisturiser R345, Clicks
- Eucerin UreaRepair Plus 5% Urea Body Cream R390, Clicks
- Lamelle Serra Restore Cream R665, Dermastore
- Isdin Nutradeica Facial Gel Cream R420, Dermastore
- IS Clinical Sheald Recovery Balm R735, www.cosmetology.co.za
- Avène Xeracalm Nutrition Cleansing Gel R379,95, www.lebeautyclub.co.za
- BioMedical Emporium Skin Repair Serum R837, www.skinmiles.com
- CeraVe Moisturising Lotion For Dry to Very Dry Skin R275, Clicks
- The Ordinary Soothing & Barrier Support Serum R350, Bash
Hulpbronne:
Lees ook: Skitterskoon … of nie? | rooi rose
