Deur Tanya de Vente-Bijker
Daai vinnige geselsies by die werk se koffiemasjien, of in die ry by die winkels of dalk op die parkeerterrein by die skool terwyl jy vir jou kind wag, is belangriker as wat jy dink.
Jy is dalk die ouer wat op die laaste minuut by die skool stop sodat jy onnodige praatjies met ander ouers kan vermy, of ‘n verskoning uitdink vir ‘n vriendin se kuier aangesien jy nie kans sien om met vreemdelinge te gesels nie.
En tog is daar ‘n bekende uitdrukking wat lui: Gesprekke het die mag om vreemdelinge in vriende te verander, koffieafsprake in huwelike en werksonderhoude in loopbane.
Volgens ‘n navorsingsartikel in die Harvard Business Review kan juis daai spontane gesprekke en toevallige ontmoetings ons kreatiwiteit en samewerking (veral onder kollegas), en ons vermoë om te presteer bevorder. Kletspraatjies kan mense energie en ‘n gevoel gee dat hulle raakgesien word. En die goeie nuus is, as jy daarmee sukkel, kan jy dit aanleer.
Groot vennootskappe begin by klein geselsies
Claude Ndala, die gaste-verhoudingsbestuurder by die Sandton Hotel in die Acsiopolis-kompleks moet elke dag praatjies met gaste in die hotel maak. Hy sê vir hom kom dit baie natuurlik omdat hy ‘n passie vir mense het. “Ek is gelukkig met die gawe gebore.” Claude is in die Demokratiese Republiek van die Kongo gebore en hy erken heelhartig dat dit juis sy Franse afkoms is wat hom so ‘n smooth talker maak.
Claude sê kletspraatjies kan vir jou deure na verhoudings oopmaak. “In die hotel is dit juis belangrik om klein geselsies te maak sodat ek met my gaste kan netwerk.” Hy sê hy maak seker dat hy met al sy gaste ‘n verhouding opbou sodat hulle weer en weer na die hotel terugkom.
“Wanneer ek byvoorbeeld ‘n hotelgas op sy mooi das komplimenteer, kan ek sien hoe die kompliment die persoon laat ophelder.” Maar, maan hy, onthou om dit opreg te hou. Dit moet steeds uit jou hart kom.
Iris Posthouwer en Liz Luyben, die skrywers van die boek Small Talk Survival: Your Guide to Smooth Openers, Meaningful Chats and Graceful Getaways, het ‘n jaar lank navorsing gedoen oor al die aspekte van praatjies en kommunikasie in die algemeen. Liz skryf dit kan moeilik wees om ‘n eenvoudige kletspraatjie met iemand te begin as jy nie weet hoe om dit te doen nie. Die heel eerste spoedhobbel, skryf Liz, is die feit dat mense gespanne raak om te dink hulle moet met iemand gesels. Of dit nou die kollega is wat jy lanklaas gesien het, of ‘n buurman wat jy in die winkels raakloop. Ons is onbewustelik bang dat hulle nie van ons hou nie en beslis nie met ons wil praat nie, verduidelik sy.
Wenke om beter te klets
Maar wat as dit nie natuurlik kom vir jou nie? Hoe kan jy dit aanleer?
Liz se raad is om stadig te begin in omgewings waar jy gemaklik voel. “En soms gaan dit nie uitwerk nie. Jy kies dalk iemand op ‘n slegte dag. Vergeet dit en beweeg aan.”
Die goeie nuus is dat jy met ‘n paar eenvoudige truuks ontspanseine aan iemand anders se emosionele brein kan stuur, skryf Liz en Iris. Hulle verduidelik die drie belangrikste aspekte is: Maak oogkontak, glimlag en kantel jou kop wanneer jy praat.
Oogkontak is die eerste stap tot ‘n verbintenis en om jou brein se paadjies te stimuleer.
Jou boodskap kom beter oor, en navorsing het bewys dat ons beter kan skakel met iemand wat oogkontak maak. Maar, hou jou oogkontak normaal. As jy gaan begin staar, gaan jy mense net bangmaak.
“Gee vir iemand ‘n groot glimlag en mense sal onmiddellik dink jy is makliker om te nader, en aantrekliker. Die glimlag gaan jouself boonop laat beter voel,” sê Liz.
Kantel jou kop effens, dit is ‘n teken dat jy wil vriende wees. “Die teorie agter dit is dat wanneer jy dit doen, jy die aar vertoon wat suurstof na jou brein vervoer. Die teenoorgestelde is wanneer jy bedreig voel of stres, dan trek jy jou skouers effens op om die aar te beskerm. Mense wat hul koppe kantel, word as simpatieker en eerliker beskou.”
Benader dit met die regte ingesteldheid
Kry jou houding reg. “Jy kan ‘n gesprek oor amper enigiets en alles begin,” skryf Liz. “Jy moet net jouself oor die eerste spoedhobbel kry. Begin deur jou houding te verander.” Dit help nie jy fokus die hele tyd daarop hoe baie jy dit haat om ‘n geselsie te begin of hoe sleg jy daarmee is nie. Iris glo dit help om jou small talk face aan te sit. Vertel vir jouself dat almal wat jy ontmoet met jou wil praat. En maak asof jy ‘n pret-mens is.
Claude glo ook dat selfvertroue baie belangrik is. “Moenie bang wees nie. Glimlag, maak dalk ‘n klein grappie en hê die selfvertroue om met iemand te gesels.”
Vra eenvoudige vrae. Jy kan baie leer deur te luister hoe ander mense hul stories deel, sê Ané. Sy sê jy hoef nie baie te kan praat om kletspraatjies aan te knoop nie. “Trouens, om die kuns te bemeester, moet jy weet hoe om goeie vrae te vra.”
“Vra ‘n algemene vraag vir die ander persoon. ‘n Maklike onderwerp om mee te begin, is om meer oor iemand se belangstellings uit te vind. Almal het belangstellings en al is jou belangstellings dalk nie dieselfde nie, is dit steeds ‘n geleentheid om te leer en te deel.”
Luister aandagtig. Maak seker jy luister geïnteresseerd en vra opvolgvrae om meer uit te vind en te leer.
Deel iets uit jou eie lewe. “Hierdie wenk verseker dat jy belangstelling toon asook van jouself deel. So kan jy ‘n verbintenis verseker om ‘n vertrouensverhouding deur ‘n eenvoudige klein geselsie te begin bou,” sê Ané.

Hoe voel jy oor kletspraatjies? Foto: Brooke Cagle, Unsplash
Hoe voel jy oor kletspraatjies?
Elsabé Smith van Sinoville sê sy is lief vir klein geselsies. “Al is dit net ‘n vriendelike groet, of om vir iemand ‘n kompliment te gee. Soms deel ek selfs vinnig ‘n lekker resep terwyl ek in die ry by ‘n betaalpunt wag.”
Eugenie Buys van Pretoria-Oos sê sy hou van gesels, maar nie met vreemdelinge nie en ook nie oor ditjies en datjies nie. “Ek sien nie die punt in nie. Ek hoef nie met almal ure lange diep gesprekke te voer nie, maar ek wil praat om te praat.”
Carla Hanekom van Centurion hou ook niks daarvan nie. “Ek sal gesels as iemand anders met my begin gesels, maar ek hou nie daarvan nie. Dit voel of ek nooit weet wat om terug te sê of hoe om die geselsie te laat aanhou nie.”
Doortjie Pretorius van Tzaneen sê kletspraatjies verbreed haar horison. “Ek gesels vreeslik lekker met enigiemand en oor verskeie onderwerpe. So leer ek daagliks van geluk, hartseer, hoop en vreugde, alles op verskillende tye. Dit is heerlik.”
Petrea Kapp van Centurion hou eintlik niks van kletspraatjies nie. “Maar wanneer ek by die departement van binnelandse sake in die tou staan en daar is geen vordering nie, gesels ek makliker as normaalweg.”
Voordele van kletspraatjies
Ané Bresler is die hoof van openbare betrekkinge by Decusatio, ‘n maatskappy wat openbare betrekkinge en kommunikasiestrategieë vir kliënte bestuur. Sy sê sy het al soveel keer gesien dat ‘n groot vennootskap met praatjies begin (big deals start with small talk). “As jy nie die vermoë het om verbintenisse met mense te maak nie, is die kans bitter skraal dat jy sukses in jou onderneming gaan behaal.” Sy verduidelik mense doen besigheid met mense, en spesifiek met mense wat hulle vertrou. “‘n Vertrouensverhouding word op gemeenskaplike belangstellings gebou en ‘n kletspraatjie is die perfekte grondslag om gemeenskaplike belangstellings vas te stel. Vandag se geselsie kan môre se groot geleentheid word.”
Elizabeth Dunn is ‘n professor by die sielkundedepartement aan die University of British Columbia. Sy het ‘n interessante verskynsel nagevors. Dit word die Benjamin-effek genoem (na Benjamin Franklin genoem). Sy het gesien hoe haar vriend met haar kortaf, maar vriendelik met vreemdelinge is. Dit was opsigself nie so vreemd nie, maar toe kom sy agter hoe hy juis vriendeliker met haar word en sy bui verbeter nadat hy vriendelik met vreemdelinge was. Sy het gaan navorsing doen oor die fenomeen en in haar boek Happy Money verduidelik sy dat ons inderdaad ons beste voet by vreemdelinge voorsit en dat dit ons juis kan vroliker maak. Dus, as jy self ‘n slegte dag beleef, kan ‘n vriendelike geselsie met die afleweraar of die kassier ook jou eie gemoedstoestand verbeter.
Lees ook: Stoksielalleen | rooi rose

