Deur Anet Schoeman
Die grootste geheim van sukses op jou bergfiets is om goeie balans te hê. Dit gee jou stabilitiet en maak elke hindernis makliker sodat jy jou bergfietservaring soveel meer kan geniet. Om goeie balans te handhaaf, moet jou posisie op die fiets reg wees. Ons onderskei basies tussen twee hoofposisies:
a. Neutrale posisie

- Staan op
- Kry jou pedale op gelyke vlak
- Agterste been byna reguit en voorste been gebuig
- Sentreer jou boude se gewig oor die saal
- Hou jou ken oor die handvatsel, effens agter jou hande
- Arms is effens gebuig
- Kop regop en kyk vorentoe
Begin deur iemand te kry om jou fiets vir jou stewig vas te hou terwyl jy op die fiets sit. Staan op en kry jou pedale gelyk met jou agterste been aan die reguit kant en jou voorste been gebuig. Jou boude moet oor die saal wees en jou ken oor die handvatsels.
As jou pedale gelyk staan (level) beteken dit dat jou gewigsverspreiding gelyk is op beide wiele en so het jy veel meer stabilitiet.
Jy het dus beter balans deur te staan as wanneer jy op jou saal sit. Omdat jy “los” op die fiets is, kan jy jou lyf en die fiets beweeg om jou balans te korrigeer wat jy nie kan doen as jy in die saal sit nie.
Wanneer gebruik jy dit?
Hierdie posisie is ideaal vir gewone plat paadjies of waar jy enige kleiner hindernisse moet aandurf soos deur ’n smal hekkie of oor bruggies.
b. Aanvalsposisie

Hierdie posisie is nodig as jy hindernisse aandurf soos afdraende, klipperige gedeeltes of bloot gereed wil wees vir onverwagse hindernisse. Die posisie is meer uitputtend en dus wil jy nie die hele tyd in hierdie posisie wees nie.
- Staan regop
- Pedale gelyk
- Hou jou ken oor die handvatsel, effens agter jou hande
- Buig by jou heupe sonder om jou lyf vorentoe te beweeg
- Buig jou arms baie meer en jou bors kom nader aan die handvatsels
Nou is daar meer gewig op die voorwiel om te verseker dat dit nie onder jou padgee nie. Dis ideaal as jy afdraende ry of oor ongelyke oppervlaktes soos klippe ry.
Lyne by foto’s
• Wit lyn: liggaamsposisie
• Groen lyn: ken oor handvatsel
• Geel lyn: middelpunt van massa tussen die wiele
• Blou lyn: kyk vorentoe
• Rooi pyl: bring bors laer soos jy by heupe buig. Ken bly steeds oor die handvatsels
Raad verskaf deur Marc Fourie, hoofvaardigheidsinstrukteur, PwC Bike Park, Sandton. Vir meer inligting en lesse, kontak hom by skills@bikepark.co.za
Lees ook: Kom weer aan die draf | rooi rose
