Deur Mariette Snyman
Inligtingstegnologiekenner Elred Lawrence (73) van Kaapstad sê prostaatkanker bedreig dít wat van ‘n man ‘n man maak. “Ek was bevoorreg om dié siekte te kon oorkom, maar om daarmee gediagnoseer te word, lewensbelangrike besluite te moes neem en ‘n prostatektomie te ondergaan, is geweldig uitdagend.
“Toe ek 58 was, het my algemene praktisyn tydens ‘n roetine-ondersoek gevind dat my prostaat vergroot het. Ek moes voortaan elke drie maande ‘n PSA-bloedtoets kry, want prostaat-spesifieke antigene neem toe as jy prostaatkanker het.
“Aanvanklik het die PSA-tellings min gestyg. Die dokter het my gerusgestel dat prostaatkanker stadig groei. Ek sou waarskynlik eerder daarmee saamleef as om daaraan te sterf. Ek was gemaklik en het geen pyn ervaar nie.
“Toe die PSA-lesings egter vinniger begin styg, het die dokter bekommerd geraak. Ek doen toe wat ons almal doen — ek raadpleeg dr Google. Die inligting was verdoemend, en ek moes myself maan dat die slegte nuus nie noodwendig op almal van toepassing is nie.
“Die chirurg wat ek gesien het, wou onmiddellik opereer. Ek het deeglik daaroor nagedink en is terug na my huisdokter. Ná ‘n lang gesprek het ons besluit om die kanker noukeuriger te monitor. Ek het ‘n ander chirurg gaan sien. Hy het dit onnodig gevind om my prostaat onmiddellik te verwyder.
Behandelingopsies
“Wanneer jy prostaatkanker het, sluit die opsies tot jou beskikking ‘n operasie, bestraling en die inplanting van klein radiumstokkies in. Dis verstandig om jou huiswerk te doen en met mense te gesels wat hierdie prosesse eerstehands ervaar het. In die lig daarvan dat ek moontlik met prostaatkanker sou saamleef eerder as om daaraan te sterf, het ek besluit om die chirurgiese verwydering van my prostaat so lank ek kon uit te stel.
“In daardie tyd het ek die metafisika bestudeer en onder meer ‘n drie jaar lange opleiding voltooi om ‘n shiatsu-praktisyn te word. Shiatsu is ‘n Japanse genesingsterapie wat op tradisionele Chinese medisyne, soortgelyk aan akupunktuur, gegrond is. Dis ‘n holistiese massering wat jou liggaam se energielyne in ag neem.
“Dit kan verskeie fisieke kwale verlig. Ek het die kennis op myself begin toepas en my venoot het gereeld shiatsu op my gedoen, spesifiek gerig op die prostaat en die emosies en probleme wat daarmee verband hou.
Houding en leefstyl
“Ek glo vas jou houding teenoor die lewe beïnvloed jou hantering van groot uitdagings soos kanker. Om positief te bly, is egter makliker gesê as gedaan. Wat my gehelp het, was om op dankbaarheid te fokus. As jy dankbaar is vir alles wat in jou lewe gebeur — selfs prostaatkanker — en waardering ontwikkel vir die groei wat dit meebring, kan jy ‘n positiewer ingesteldheid kweek.
“Om my liggaam te ondersteun, het ek verskeie leefstylaanpassings gemaak, soos om voedselsoorte te vermy wat vrye radikale aanhelp. Ek het kosse wat vir prostaatkankerlyers aanbeveel word, byvoorbeeld gaar tamaties en granaatsap, ingesluit. Klein maar standhoudende wysigings aan my denkwyse en dieet het my gehelp om langer met die gedagte aan potensiële radikale prostaatchirurgie saam te leef as wat ek andersins sou kon doen.
“Dit het sewe jaar geduur voor ek, die chirurg, en my huisdokter besluit het dat my prostaat verwyder moes word. ‘n Prostatektomie dwing jou om sekere feite te trotseer. Die skrikwekkendste aspek is waarskynlik die moontlikheid van erektiele disfunksie. Jy dink: dit gaan my sekslewe verwoes. Hoe op aarde gaan ek dit geestelik, emosioneel en fisiek hanteer?
“Die medici waarsku jou ook teen moontlike inkontinensie — jy sal dalk die res van jou lewe ‘n klein sakkie of doeke moet dra. Jy wil jouself allermins in daardie posisie plaas! Jy word ook ingelig dat bestraling, as jy dit moet kry, liggaamsdele rondom die prostaat kan aantas.
“My chirurg het onderneem om alles moontlik te doen om dié nagevolge te vermy of te minimaliseer. Hy sou probeer om nie die betrokke senuwees te beskadig nie, sodat ek ‘n mate van sensasie kon behou en die kans op erektiele disfunksie kleiner sou wees. Hy kon dit egter nie waarborg nie.”
Die prostatektomie
“Wanneer die prostatektomie ‘n werklikheid word, vind jy ‘n manier om moed bymekaar te skraap. Dis belangrik om die operasie kalm tegemoet te gaan, die medici te vertrou en te glo jy sal agterna die nodige aanpassings kan maak — wat ook al mag gebeur.
“Die chirurg met wie ek te doen gehad het, het voor die operasie gesê hy doen selde prostaatoperasies. Hy wou ‘n snydokter betrek wat slegs prostaatchirurgie doen. Dít het ek baie waardeer.
“Voor die operasie het ek ‘n epiduraal gekry sodat my onderlyf tydens en ná die operasie geen gevoel sou ervaar nie. Die chirurg se uitgangspunt was om my vir minstens ‘n week pynvry te hou. Sonder pyn, het hy verduidelik, genees die liggaam baie vinniger.
Die nasorg
“Toe ek ná die prostatektomie wakker word, het ek geen pyn gehad nie, maar ek was verlam van my middellyf af ondertoe. Ek kon nie eens my tone beweeg nie. Ek het groot geskrik, maar die verpleegsters het my gerusgestel. Twee dae later kon ek weer beweeg.
“Ek was twee dae lank in die intensiewe sorgeenheid en drie dae in ‘n private saal.
Bo en behalwe pynpille het ek morfien gekry, wat die pyn goed beheer het. Ek het ‘n kateter gehad en ‘n sakkie wat my urine opgevang het.
“Ek kon met die hulp van die personeel loop terwyl ek een van die lang metaalpale op wiele met ‘n drupsak stoot. Die dokters het gesê hulle wag gewoonlik vir ‘n pasient se spysvertering om weer behoorlik aan die gang kom voor hy ontslaan kan word.
“By die huis moes ek nog ‘n week in die bed bly, steeds op pynpille en gekoppel aan die urinesakkie. Ek het baie min energie gehad. Daarna kon ek opstaan en rondloop.
“Die steke en kateter is drie weke ná die operasie verwyder. Ek moes enige lekkasie van urine onmiddellik aanmeld om die risiko van inkontinensie aan te spreek. Die dokter het my sensitiewe maar praktiese raad gegee.
“As iemand nie meer ‘n prostaat het om met blaasbeheer te help nie, moet hy die spiere waarmee hy ‘n wind sou inhou, gebruik om sy blaas te beheer. Reeds voor die operasie moes ek hierdie spiere oefen en versterk. Ek het dit getrou gedoen en nooit ‘n probleem met inkontinensie gehad nie.”

Elred vertel as hy terugkyk, wens hy hy het die vrymoedigheid gehad om vriende, familie en iemand wat self ‘n prostatektomie beleef het, te vra om hom emosioneel te ondersteun. Foto: The Ridge Ohio, Unsplash
Emosionele steun
Elred vertel as hy terugkyk, wens hy hy het die vrymoedigheid gehad om vriende, familie en iemand wat self ‘n prostatektomie beleef het, te vra om hom emosioneel te ondersteun.
Baie mans in dié posisie worstel alleen met hul vrese, en vind dit moeilik om hul binneste bloot te lê. En hulle beleef erge kommer.
“Die vraag is: waar kry jy iemand om mee te praat? Ek sou Google vermy, behalwe om op sosiale media of elders na steungroepe te soek. Soms is dit makliker om met vreemdelinge te praat as met mense na aan jou. Jy kan ook vriende en familie vra of hulle iemand met eerstehandse ervaring ken — hulle sal tien teen een moeite doen om uit te vind.
“Ek dink hoe openliker jy teenoor die mense in jou kring kan wees, wat jou ervaring van prostaatkanker betref, hoe meer bystand sal jy kry. Dit geld veral vir jou lewensmaat.
“Wees egter bedag op die soort ondersteuning. Iemand wat sê ‘ag, alles sal goed gaan’ sonder om die feite in ag te neem, is nie realisties nie. Jy kort iemand wat die minder aangename feite erken, maar jou help om dit te navigeer. En wat jouself betref, beteken ‘n positiewe benadering nie om die negatiewe te ignoreer nie. Dit beteken om moedig te wees.”
Hoe het Elred se ervaring van prostaatkanker sy lewensuitkyk beïnvloed?
“Eerstens het ek geleer die lewe is kort. Ek fokus bewustelik op my vreugdes en lééf hulle elke dag. Tweedens eet ek goeie, gesonde kos.
“Ek eet met my mond, oë, neus, met al my sintuie. Dit sê vir my liggaam: ‘Ek doen my bes vir jou.’ Derdens bly ek aktief en energiek, al woon ek in ‘n aftreeoord. Die lewe is ‘n kosbare geskenk.”
Prostaatkanker-oorlewingsyfers
Volgens die Mayo Clinic is die meeste mense se kans om prostaatkanker te oorleef redelik goed:
- Wanneer die kanker slegs in die prostaat is, is die kans om minstens vyf jaar lank te oorleef 100%. Namate die kanker verder versprei, word die kans kleiner.
- Met metastatiese prostaatkanker — wanneer prostaatkanker na ander dele van die liggaam versprei het — is die kans om minstens vyf jaar te oorleef ongeveer 37%. (Let wel: hierdie soort oorlewingstatistieke neem vyf jaar om ingesamel te word. Die mees onlangse oorlewingsyfers sluit mense in wat meer as vyf jaar gelede prostaatkankerbehandeling gehad het. Hulle het moontlik nie toegang tot die jongste behandelings gehad nie.)
- In die afgelope paar dekades het prostaatkankersterftesyfers gedaal en oorlewingsyfers toegeneem.
Bron: www.mayoclinic.org
Lees ook: Ja, mans kry ook borskanker | rooi rose
