MoeniDeur Zerelda Esterhuizen
Sy kan nie ‘n tyd onthou wat sy nie angstig was nie. “My kinderjare was nie maklik nie en ek was ‘n baie angstige kind,” skryf ‘n vrou op ‘n aanlyn forum vir angslyers.
“As jong volwassene, moes ek my pad oopveg en het dit broekskeur gegaan. Ek het vandag ‘n beter lewe as toe, maar steeds is angs my konstante metgesel. Dit het ook al telkemale tot angsaanvalle gelei en daar is sekere situasies wat as snellers vir my angs dien. Ek het altyd gedink daar is fout met my, maar die meeste van my vriendinne is op een of ander pil wat hulle met angs help.”
Dié vrou slaan die spyker op sy kop, want sy’s beslis nie die enigste een wat met angs worstel nie; inteendeel, daar word beraam dat vier uit elke 100 mense wêreldwyd aan ‘n angsversteuring ly. Dis vandag een van die algemeenste geestesprobleme en dit lyk asof vroue en jongmense diegene is wat die meeste daarmee stoei.
Meer mense ly aan angsversteuring
‘n Kliniese sielkundige Adri Kruger van Broadacres, Johannesburg, sê daar is heelwat navorsing wat daarop dui dat al hoe meer mense, veral kinders en tieners, met angsversteurings gediagnoseer word.
“Daar is allerhande teorieë hieroor. Ons weet sosiale media het ‘n groot impak, sosio-ekonomiese toestande en natuurlik het die Covid 19-pandemie ook ‘n groot rol gespeel.”
“In my praktyk sien ek dat mense gelyktydig ‘n verskeidenheid rolle moet vertolk. Jy is ‘n werker, werkgewer, tuisteskepper, huiseienaar, vriendin, dogter, ma, kok, verpleegster, kunstenaar, tuinier, tennisspeler alles op dieselfde tyd. En dan word ons nog verder blootgestel aan hoë vereistes (hoe ons grootgemaak is, sosiale vereistes, sosiale media) en die verwagting dat jy al hierdie rolle perfek moet doen. Dit kan absoluut oorweldigend wees.”
Adri sê dit is ook so dat navorsing toon dat meer vroue as mans met angs gediagnoseer word.
“Die teorieë vir die verskil kyk na mans en vroue se verskille in breinchemie ten opsigte van estrogeen en progesteroon, asook ‘n verskil in die senuoordraer serotonien. Daar word gesê dat sosiale faktore ook ‘n rol daarin speel.”
Normale angstigheid teenoor angsversteuring
Angstigheid is deel van baie mense se lewe, maar daar is wel ‘n verskil tussen normale angstigheid, wat almal een of ander tyd ervaar, en ‘n angsversteuring, benadruk Adri. “Ligte of matige angs is normaal en eintlik baie funksioneel. Om byvoorbeeld ‘n bietjie angstig voor ‘n belangrike vergadering te wees, kan jou help om te fokus en om deeglik voor te berei. Maar erge of aanhoudende angs kan ‘n mens heeltemal oorweldig en veroorsaak dat jy eerder die vergadering vermy.”
“Dit is hierdie soort angs, wat met jou daaglikse funksionering inmeng en voorkom dat jy voluit leef, waarvan ons praat as ons na angsversteurings verwys.”
Dr Karin Smith, ‘n sielkundige van Springs, sê algemene angsversteurings word gekenmerk deur die aanwesigheid van vae, ongedifferensieerde angs en spanning wat ses maande of langer voortduur sonder enige verklaarbare rede.
Sy sê daar is verskeie soorte angsversteurings, soos algemene angssteuring, fobies, panieksteurings, posttraumatiese stressteuring, skeidingsangs, omstandigheidsangs en obsessief-kompulsiewe steuring. Hoewel elkeen sy eie kenmerke en simptome het, word hulle saam as angsversteurings gegroepeer.
Hoe lyk angs?
Angs word uit vier komponente opgebou, verduidelik Adri. Dit sluit gevoelens, gedagtes, gedrag en fisiologiese simptome in.
“Voor jou vergadering is jy dalk baie senuweeagtig, gespanne en sommer geïrriteerd met mense (gevoelens), jou hart klop vinnig, jy haal vlak asem, jou hande sweet, daar is ‘n aaklige hol kol op jou maag (fisiologiese simptome), jy dink dat jy iets doms gaan sê en dat jou kollegas vir jou gaan lag of dat jou baas jou sommer gaan afdank (onakkurate of onrealistiese gedagtes). Jy wil dalk die werk bel en sê jy is siek, of jy sal net vergadering toe gaan as jou vriendin-kollega ook gaan of jy werk deur die aand vir ure aan ‘n stuk werk wat eintlik net ‘n uur se werk is (vermydings- en veiligheidsgedrag).”
Dit is behandelbaar
Omdat angs so wydverspreid is, is daar gelukkig baie hulpbronne beskikbaar, vertel Adri. Daar is byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) wat baie behulpsame bronne op hul webwerf het.
“My gunstelingterapie vir angs is kognitiewe gedragsterapie. Dis moeilik om ‘n gevoel te verander, maar ‘n mens kan ‘n groot impak maak deur met die ander komponente van angs (gedagtes, gedrag en fisiologiese simptome) te werk. ‘n Mens sal afhangend van jou spesifieke angsprofiel meer of minder aandag aan elkeen van die komponente gee,” vertel sy.
Dr Karin sê daar is nie ‘n kitskuur vir angs nie, maar daar is beslis hoop vir iemand wat met angstigheid worstel. “Selfspraak en die wyse waarop ‘n mens sy wêreld organiseer, het ‘n groot invloed op emosies en daarom gedrag. Kry hulp met jou gedagtehantering, want mense wat aan angsversteurings ly, is byvoorbeeld geneig om op ‘n angstige manier met hulself te kommunikeer. Kognitiewe gedragsterapie is baie doeltreffend.”
Sy noem voorts dat algemene behandeling vir angssteurings lewenstylverandering, terapie en medikasie is. “Dit is belangrik om die persoon rustig te laat voel en te laat besef dat elke angsaanval verbygaan. Dit gaan nie vir ewig aangaan nie en sal binne minute heeltemal verdwyn.”
Simptome om op ag te slaan
Dr Karin sê ‘n mens moet definitief aandag aan jou angs gee as jy meer as vier van die volgende simptome ervaar: hartkloppings of ‘n versnelde harttempo, sweet, bewerigheid, kortasem is, voel asof jy versmoor, borspyn of ongemak in die bors, naarheid of ongemak in die maag, duiseligheid, onsekerheid, lighoofdigheid of floute, vrees om beheer te verloor of om mal te raak, vrees om dood te gaan, doodse gevoelens of tintelende sensasies, koue rillings of warm gloede.
Tegnieke wat met angs kan help
“Daar is baie tegnieke wat mense met hul angs kan help,” brei Adri uit. “‘n Terapeut kan saam met jou besluit wat die beste vir jou sal werk. Daar is ook baie goeie medikasie beskikbaar – jy kan met jou huisdokter of psigiater daaroor praat.”
Adri meen dat veral asemhalingstegnieke mense met angs kan help.
“Die meeste tegnieke kom daarop neer dat jy diep en stadig asemhaal. Haal diep asem deur jou neus en blaas dit stadig deur jou mond uit, en herhaal. Daar is heelwat toeps wat hiermee kan help, soos Calm of Headspace.”
“My een gunsteling-asemhalingstegniek is die fisiologiese sug (physiological sigh). Haal diep asem deur jou neus, en haal dan nog ‘n keer vinnig asem deur jou neus, en blaas die asem stadig by jou mond uit. Visualiseer hoe jy hierdie asem deur ‘n strooitjie uitblaas. Tuit dus jou lippe asof daar ‘n strooitjie is en blaas stadig uit. Herhaal dit ‘n paar keer. As ons stadiger asemhaal, verlaag ons hartklop, die adrenalien en kortisol verlaag, en dan kan ons ook helderder dink. Asemhalingsoefeninge klink na iets kleins, maar dit het ‘n groot impak op angs.”
Moenie jou angs vermy nie
Adri sê ‘n mens moenie jou angs vermy nie, want vermydingsgedrag is ‘n groot faktor in angs.
“Om iets te vermy (ek sal dit later doen of glad nie) bied onmiddellike verligting vir angs. Maar op die duur vererger dit die angs, want ons word dan nooit blootgestel aan dit wat die angs veroorsaak nie, dan kan ons nooit leer dat ons suksesvol kan wees nie. Daarom sal baie terapeute sê ons kan angs beheer deur na die fisieke en denkaspekte te kyk, maar om angs werklik te behandel (en daarvan ontslae te raak) moet ‘n mens na blootstelling (exposure) kyk. ‘n Mens kan met klein stappies begin deur bloot in jou gedagtes die situasie (wat angs wek) deur te speel en te oefen om dit te hanteer,” vertel sy.
Dr Karin se raad
- Probeer begryp wat jou spesifieke snellers is en bepaal wat die situasies is wat jou angstig laat voel.
- Raak bewus van jou emosies en laat jouself toe om dit te voel en te benoem. Dit maak die verwerkingsproses makliker as jou emosie ‘n naam het.
- Verlaag jou streshormoon (kortisolvlakke). Jou liggaam is so saamgestel om kortisol te vervaardig en dit word in reaksie op stressors afgeskei.
- Beoefen bewustelikheid (mindfulness). Dit sluit enigiets in wat jy gefokus doen, soos asemhalingsoefeninge of meditasie vir ontspanning.
- Voltooi take wat jy uitstel en fokus op die dinge wat jy gewoonlik doen om jou angs te verlig. As jy take voltooi wat jou gespanne maak, sal jy die dopamienafskeiding daarna ervaar.
- Maak tuin of doen iets kreatiefs.
- Skep roetine vir jouself. As jou dag voorspelbaar is, verlaag dit jou angs. Roetine kan jou vry maak.
- Maak kontak met mense vir wie jy omgee, en wat jy kan vertrou. Gesels ook dalk met vreemdelinge soos iemand wat saam met jou in ‘n tou wag.
Het jy geweet?
Mense besef dikwels nie daar is ‘n verskil tussen ‘n paniek- en ‘n angsaanval nie, sê dr Karin. “Die simptome is presies dieselfde, maar daar is verskille. Met ‘n paniekaanval word die simptome uit die bloute uit ervaar en met ‘n angsaanval word die simptome net in ‘n spesifieke konteks ervaar, soos wanneer jy ‘n kar bestuur, of wanneer jy in ‘n hysbak of winkelsentrum is.”
Kontak ons kenners
- Adri Kruger: www.adrikruger.co.za
- Dr Karin Smith: 083 300 7488, mwsmurfs@mweb.co.za
Lees ook: Het jonges vandag meer probleme? | rooi rose
