Toe ’n advertensie vir Mev Suid-Afrika op haar foon verskyn, het Tracey Elliott dit vir haar man, Mark, gewys. “Hoekom probeer jy nie?” het hy gevra, waarop sy geantwoord het: “Nee, ek dink nie so nie.” Sy het egter tog navorsing daaroor gedoen en was aangenaam verras. “Wat my oortuig het, was die ontdekking dat die kompetisie vroue van alle oortuigings, rasse, kulture, vermoëns, groottes en godsdienstige agtergronde vier.”
Sy is vandag een van die top-30-finaliste in Mev Suid-Afrika 2026 en het, op 55-jarige ouderdom, net-net binne die kompetisie se ouderdomsperk geval.
“Ek was verlede jaar in die waakeenheid en het vir my lewe geveg; nou staan ek op hierdie verhoog, floreer ek en skitter ek,” sê Tracey. “Iemand moes die oudste wees, en ek is verheug dat dit ek is, want dit bewys net dat dit nooit te laat is om jou drome na te jaag nie.”
’n Lewe van tweede kanse
Tracey weet hoe kosbaar nuwe beginne is. Op 30 Augustus 2008 was sy saam met haar man en hul twee seuntjies op pad na die Pretoria-dieretuin toe ’n taxi ’n rooi lig verontagsaam en teen hul motor gebots het. Sy het 15 bene gebreek – insluitend haar bekken en sakrum – en het byna ’n jaar in ’n rolstoel deurgebring terwyl sy weer leer loop het. Jare later het ’n spesialis vir haar gesê dat sy slegs ’n paar millimeter daarvan weg was om verlam te raak.
In 2021 het ’n gewas aan haar paratiroïedklier nierstene, pankreatitis en ’n bloedklont in haar milt veroorsaak. Sy was sewe maande lank herhaaldelik in en uit die hospitaal en sy het 20 kilogram verloor. Daarna, in Februarie 2025, het sy ’n operasie van agt uur ondergaan om haar pankreas en milt te laat verwyder. Sy moet nou met tipe 1-diabetes saamleef, maar floreer – in haar eie woorde – en is gelukkig terug in die kombuis om vir haar gesin te kook.
Tracey, ’n toegewyde Christen, skryf haar veerkragtigheid toe aan haar geloof en aan haar man, Mark, wie se aanmoediging, ondersteuning en sorg haar deur ’n genesingsreis van 18 jaar staande gehou het.
Sy onthou ook die wonderlike goedhartigheid van familie, vriende en talle ander gedurende hierdie tyd – oomblikke wat sy as “God se vingerafdrukke” beskryf. Sy vertel dat sy die eindrondte as ’n boodskapper van hoop betree, en verduidelik: “Jy is nie jou diagnose of dit wat met jou gebeur het nie; dit hoef jou nie te definieer nie. God het ’n pragtige verhaal vir jou lewe geskryf.”
Van blaai deur inskrywings tot die finale 30
Tracey het in Julie die finale 30 gehaal tydens die halfeindrondeweek by Hotel Sky in Sandton – ’n prestasie wat, volgens haar, vir haar die wêreld beteken het.
“Die week was op die beste moontlike manier oorweldigend, met leierskapsbesprekings, mentorskapsessies, onderhoude en ’n lewendige vertoning op die verhoog,” vertel sy. “Die finaliste het daarna drie dae in werkswinkels oor mediabetrekkinge, sakeaangeleenthede en maatskaplike verantwoordelikheid deurgebring, en het hul eerste professionele foto- en videosessies gehad.
“Hierdie program het my lewe verander. Dit het my gehelp om my vaardighede in openbare toesprake, aanbiedings en netwerkvorming te ontwikkel, terwyl dit ook my selfvertroue versterk en my geleer het om myself te waardeer,” voeg sy by.
Maar om die top-30-kategorie te haal, behels meer as net wat op die verhoog gebeur, verduidelik Joani Jacobs, die uitvoerende hoof van Mev Suid-Afrika. “Ons beoordelaars het gesoek na opregte tekens van diepte en groei in elke vrou se persoonlike ontwikkeling en leierskap. Wat werklik saak maak, is die werk wat hulle in hul gemeenskappe doen, die lewens wat hulle verander, en die manier waarop hulle leiding neem.”
Om terug te gee
Tracey bestuur sedert 2019 Abundant Life Health and Wellness en studeer tans in traumaberading by Pathway to Purpose. Haar visie is om traumaberading met vaardigheidsontwikkeling te kombineer, ten einde jong oorlewendes van geslagsgegronde geweld te help om ’n volhoubare lewensbestaan te vestig.
Sy ondersteun ook Beth Rapha (Huis van Genesing) – ’n veilige hawe vir oorlewendes van die geweld en ’n tuiste vir mishandelde en verlate kinders – sowel as Ladles of Love, wat daagliks vir kinders kos voorsien. Van 2018 tot 2020 het sy vrywillige werk by die Strathyre-meisiehuis in Johannesburg gedoen, en onlangs het sy ’n teepartytjie en kreatiewe werkswinkel aangebied om geld in te samel vir die 4Change Foundation, ’n organisasie wat jongmense met lewensvaardighede toerus.
Volgende hoofstuk
Tracey is tans besig om haar eerste boek te skryf en hoop ook om haar nuutgevonde selfvertroue en vaardighede in openbare toesprake in te span om ’n motiveringspreker te word. “Ek wil my verhaal gebruik om aan vroue te wys dat oorvloed op gebrokenheid en swaarkry kan volg.”
En met die eindronde in November is sy gereed om haar boodskap van hoop te deel op die grootste verhoog van haar reis tot dusver.
Lees ook: Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’ | rooi rose




