Deur Elke Brink (rooi rose, September 2023)
Die werklikheid van die dood is iets wat nooit maklik is om oor te praat of waaroor ons wil dink nie. As hierdie aspek van ons lewe egter nie hanteer word nie, kan die uitkoms baie nadelig vir ons geliefdes en afhanklikes wees.
Die erns van ‘n opgedateerde (en getekende!) testament, asook optimale boedelbeplanning is seker een van die belangrikste beplannings wat in enige huishouding gedoen moet word. Dit is vir my kommerwekkend hoeveel individue en gesinne ek elke dag teëkom wat geen testament in plek het nie. Ek dink ons vergeet soms dat hierdie letterlik die dokument en beplanning is wat sal verseker dat jou gesin ná jou afsterwe versorg word.
Komponente van ‘n finansiële portefeulje
Daar is sekere komponente van ‘n finansiële portefeulje wat gelukkig die voordeel bied dat jy ‘n begunstigde mag benoem, en die fondse sal na jou gelyste begunstigdes gaan. Hierdie sluit in lewensdekking, asook aftrede-voertuie (bewaringsfonds, uittree-annuiteit, lewende annuiteit, pensioen of voorsorgfonds by jou werk).
Dit is baie belangrik om te verseker dat jy eerstens ‘n begunstigde op hierdie produkte gelys het, en tweedens dat dit ná enige lewensfase opgedateer word. As daar byvoorbeeld ‘n egskeiding plaasgevind het en jou vorige gade nog gelys is, sal hy of sy die fondse ontvang. Dit werk slegs op fondse by ‘n werkgewer anders waar die trustees van die fonds die analise kan doen wie die relevante afhanklikes is en daarvolgens toewys.
Alle ander komponente in ‘n portefeulje soos toeganklike beleggings of eiendom moet gespesifiseer word. Wanneer ‘n mens sonder ‘n testament sterf, word dit na ‘n intestaatsterfe verwys (Intestate Succession Act of 1987). In hierdie geval sal die regering besluit hoe hierdie bates verdeel word, en wie hulle as die relevante afhanklikes in die spesifieke situasie ag. Dis ‘n risiko wat ek glo die gemiddelde huishouding nie graag wil loop nie.
Belangrikheid van boedelbeplanning
Boedelbeplanning is nie net belangrik om te verseker jou afhanklikes sal na omgesien word nie, maar sorg ook vir belastingdoeltreffende beplanning. Daar word 20% boedelbelasting op ‘n boedel tot en met die waarde van R30 miljoen gehef, en 25% bo die waarde van R30 miljoen. Dit is ‘n wesenlike bedrag en daar kan beplanning gedoen word om ‘n boedel so doeltreffend as moontlik te struktureer om nie onnodig belasting te betaal nie. Ek sou aanbeveel om in enige huishouding so omvattende boedelberekening te doen.
Die werklikheid van die tydlyn om ‘n boedel in Suid-Afrika te beredder, is ongelukkig iets wat ‘n mens vooraf van bewus moet wees. Die gemiddelde tydlyn is deesdae enigiets tussen 18 maande en twee jaar — of selfs meer. Om hierdie rede is dit soveel belangriker om te verseker die nodige beplanning is in plek om onmiddellik aan begunstigdes/afhanklikes van befondsing deur middel van lewensdekking of beleggings te kan voorsien.
Elke Brink is ‘n welvaartsadviseur en direkteur by PSG Wealth R21. Kontak haar by elke.brink@psg.co.za
Lees ook: Praat oor geld | rooi rose
