Uitgereik deur kykNET
Ná verlede week se episode, waarin Arno vir Rosanne gevra het om langer op die plaas te bly en JD se kop en hart al hoe meer na Leoné begin neig het, was kykers op ’n mespunt gelaat. Veral op Willie se plaas het die spanning hoog geloop.
“Liefde is twee siele wat mekaar vind. Dis ontasbaar, maar dit gee kleur aan ’n mens se lewe,” het Reandi Grey gesê oor die boere wat aan die 18de seisoen van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou deelneem.
Teeblare, trane en . . . nog trane
Jack se twee pasmaats, Anri en Hanli, het saam met Reandi op ’n uitstappie vertrek. Hanli was egter emosioneel oorweldig en het vertel dat sy reeds die afgelope week olik gevoel het. Hul eerste stop was die kliniek, terwyl Reandi en Anri by Wild Restoration aan ’n skattejag in die fynbos deelgeneem het.
Hulle het meer oor indringerplante geleer en dit selfs self begin verwyder. Later het Hanli by hulle aangesluit, waarna die twee pasmaats ook ’n geskenk vir Jack gemaak het: elkeen ’n sleutelhouer met fynbos-blommetjies.
Maar oor die uitstappies en geskenke het ’n belangriker vraag gehang: Het Jack reeds sy keuse gemaak?
Toe die oomblik aanbreek, was dit Anri wat moes huis toe gaan. Jack het gesukkel om sy emosies te bedwing, en dit was Hanli wat hom moes vertroos. Later het hy vir Reandi gesê hy het Hanli gekies omdat sy “die hele vibe” is.
Renosters, houtwerk en ’n ‘ja’
Op Francois se plaas het Beniska en Sonel intussen so ’n hegte vriendskap gevorm dat hulle grappenderwys gesê het hulle sal as “lewensmaatjies” daar uitstap indien hy nie een van hulle kies nie.
By die Hoedspruit Endangered Species-sentrum het hulle tussen die renosters en gerehabiliteerde jagluiperds gewerk – en selfs die renosterbomas skoongemaak. Later het hulle by JJ’s Bones of the Earth twee hout-snyborde vir Francois gemaak.
Francois het erken dat hy sy familie en vriende se raad ingewin het voordat hy sy besluit geneem het. Hy het ook toegegee dat hy die twee vroue se geselskap gemis het.
Toe Reandi kom kuier, het hy gesê: “Ek voel die basis is reg om te kan opbou, om ’n huis te kan begin bou.”
Maar daar was ook ’n moeilike “nee” nodig voordat daar ’n “ja” kon wees. Francois het vir Beniska bedank vir die tyd saam met hom, maar haar huis toe gestuur. Die besluit was nie maklik nie – selfs hy moes sy trane wegvee – maar hy kon nie wag om Sonel beter te leer ken nie.
Donderweer, blitse en nóg ’n skok
Op Willie se plaas het die spanning intussen ’n heel ander wending geneem. Ná die vorige aand se braai met familie en vriende het hy boonop die volgende dag laat opgedaag nadat sy middagslapie langer as beplan geduur het. Die twee pasmaats moes twee ure vir hom wag.
Een van hulle het uiteindelik besluit genoeg is genoeg.
“Ek dink my tyd hiersô is verby . . . ek het eintlik nie meer woorde nie,” het sy gesê. Sy het verduidelik dat sy iemand verdien wat haar alles kan gee wat sy verdien – en toe weggestap.
Maar dit was nie die einde nie. Die tweede pasmaat het ook haar gevoelens uitgespreek: “Ek moet ook dink aan wat ek soek en wanneer gaan jy op die punt kom wanneer jy in ag neem hoe ék goed sien.”
Hierdie keer kon Willie darem met ’n drukkie en ’n “dan is dit nou maar so” afskeid neem.
Willie het later teenoor Reandi erken dat hy sake beter kon hanteer het. “Ek was nie die persoon wat ek moes wees om hulle ‘op te pas’ nie,” het hy gesê.
Vir nou lyk dit asof liefde nie op sy plaas op die kaarte is nie. “Mense stel jou teleur,” was sy slotsom.
Reandi sê
“Hierdie reis kan twee harte bymekaar bring. Vir dié wat dit nie nou gevind het nie, is daar altyd hoop.”
Boer soek ’n vrou word oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.









