Deur Marethá Botes (uit rooi rose van Julie 2026)
‘n Nuwe lewensfase bring weer die onsekerheid. Die vrees. Die vraag: “Sal ek aanvaar word?” Maar elke keer troos dié donkerkop mense se sienings oor gestremdheid — of eerder “differently abled-mense” — en is haar eie lewe ‘n sprankelende bewys dat ons álmal net mense is. Sommiges beweeg net anders as ander.
Sumarie Jordaan (26), ‘n voormalige Mej Dowe SA-finalis, se droom was nog altyd om mense se siening oor gestremdheid te verander. Om te wys “differently abled” beteken nie jy is minder nie. Jy is dalk anders, maar jy is net so bekwaam.
Met die program Verander jou siening kry sy juis dít reg. “Die terugvoering is spesiaal en maak my opgewonde, want soveel mense laat weet my hulle kyk en dink nou anders oor mense met fisieke uitdagings,” sê sy.
Tydens haar onderhoud met rooi rose was sy reeds besig om aan die tweede seisoen van die program te werk. In die reeks word bekendes soos Willem Botha, Akani Simbine of Leah uitgedaag om ‘n pad te stap in die skoene van iemand wat met gestremdhede leef. Tussen verfilming doen sy ook haar werk by Job-Abled, wat al meer as 860 mense met gestremdhede gehelp het om werk te kry, en skryf sy onder meer liedjies en gedigte.
Sumarie se wonderwerk-geboorte
Sandré Jordaan is Sumarie en haar tweelingsussie, Elanza, se ma en is op ses maande se swangerskap met tweelingtransfusiesindroom gediagnoseer. Dit is ‘n seldsame toestand wat veroorsaak dat die een baba meer bloed en amniotiese vloeistof van die plasenta as die ander ontvang. ‘n Dokter in Kaapstad het aanvanklik voorgestel dat Sumarie geaborteer word om Elanza die grootste kans op oorlewing te gee, maar die neonatale spesialis dr Lou Pistorius in Johannesburg het nuwe hoop gegee. Hy sou die wanbalans met laserchirurgie regstel en die bloedvate tussen die tweeling probeer toemaak om te keer dat die een baba die meeste bloedtoevoer van die plasenta kry. Hy was reeds besig met die prosedure toe Sumarie se hart gaan staan het.
Dertig minute later is sy dood verklaar. Dr Lou kon haar egter nie uit die baarmoeder haal nie, want dan kon Elanza ook sterf. Toe Sandré ná die prosedure wakker word, het hy die verpletterende nuus met haar en haar man, Walter, gedeel. Sumarie sê: “My ma vertel sy het ‘n rustigheid oor haar gehad, maar my pa het baie met die Here gestoei.”
Die volgende oggend het Sandré egter beweging gevoel waar Sumarie in haar baarmoeder gele het. “Eers het sy vermoed Elanza het geskuif, maar toe dr Lou ‘n sonar doen, het hy op sy knieë neergeval en gesê dit is ‘n absolute wonderwerk. Albei babas het geleef!” sê Sumarie.
Die prosedure is hervat om die babas te red, maar ure later het Sandré begin kraam en is die tweeling gebore. “Ek het 810 gram en Elanza 700 gram geweeg,” sê sy. Die dokters het die Jordaans daarop voorberei dat Sumarie dalk steeds nie sou oorleef nie. Haar koors was hoog en sowat 5 cm van haar dunderm was beskadig. Hulle was drie maande lank in die hospitaal voordat hulle eindelik ontslaan is.
Sumarie is op ses maande met serebrale gestremdheid aan haar linkerkant gediagnoseer met slegs 30% gehoor, en Elanza met kwadriplegie.

Sumarie Jordaan is die land se eerste TV-aanbieder met ‘n fisieke gestremdheid. Foto: rooi rose
Selfaanvaarding
Sumarie gesels met rooi rose vanuit haar tuiskantoor in Brackenfell in die Kaap waar sy saam met haar man, Hennie Greyling, woon. Die akkerbome is reeds in skakerings van diepgeel en rooi getooi, en bring saam met die paletverandering ‘n rustigheid.
Ook Sumarie, soos sy deur haar mense genoem word, dra ‘n opvallende kalmte in haar.
Haar draaipunt na selfaanvaarding het as tiener gekom. Sandré en Walter het gekies om hul kinders nié in hoofstroomskole te plaas nie. Sumarie was in skole vir fisiek gestremde leerders. “Ek het pas hoërskool begin en het myself vreeslik jammer gekry. Ek het besef ek moet besluit: Gaan ek nou in ‘n hoekie sit en myself vir die res van my lewe jammer kry, of gaan ek die wêreld verander? Dit was my draaipunt. Om te besef ek kan die wêreld verander. En toe vir myself te sê ek gaan die wêreld verander. Ek gaan dit makliker vir differently abled-mense maak.”
Sy vertel dit was vir haar goed om as tiener nie saam met “gewone” kinders skool te gaan nie. “Ek wou myself graag bou en verbeter en wou sterk wees, veral met die werklikheid wat vir my in die grootmenswêreld gewag het. In ‘n skool vir differently abled-mense het ek ekstra hulp gekry en vriendskappe met mense wat ook anders is gebou. Ek moes steeds my vriende mooi kies. In ‘n stadium het ‘n onderwyser vir my kom vra hoekom ek elke pouse alleen sit. Ek sê toe ek wag vir die regte vriende. En nadat ek al die groepies mooi deurgekyk het, het ek geweet. Ek het my tribe gekry.”
Sumarie se liefde vir musiek
Van vroeg af wou Sumarie net sing. Maar dit is ‘n reuse-uitdaging as jy nie eens die musiek ordentlik kan hoor nie. Haar ouers het haar egter aangemoedig om te probeer, anders sal sy nooit weet of sy kan of nie kan nie. Drie sangafrigters het hul koppe geskud en gesê hulle weet nie hoe om haar af te rig nie. Dit is totdat sy op ‘n dag voor die deur van Wilco van Wyk, ‘n opgeleide operasanger, beland het en hy nie gehuiwer het om haar onder sy vlerk te neem nie. Hy het heel eerste begin om Sumarie met haar spraak te help, want jy kan nie sing as mense nie kan hoor wat jy sê nie. Die res het met harde werk en toewyding gekom. Sy het al 13 liedjies uitgereik met nóg drie op pad.
Vóór die TV-reeks was daar die lied “Verander jou siening” wat Sumarie self geskryf het toe sy in graad 11 was. Sy het die lied geskryf ná sy ‘n droom van ‘n soortgelyke werklikheidsdokkie gehad het waarvan sy die aanbieder was. Sy het sommer besluit om die idee aan kykNET voor te lê. “Natuurlik het hulle laat weet dankie, maar ek is hopeloos te jonk!” sê sy. Verlede jaar het sy die idee afgestof en aan Via voorgelê. “Dit is aanvanklik met groot skeptisisme ontvang. Hulle het regtig nie gedink ek sou dit kon doen nie. Ek moes self my eie befondsing vir die program kry, maar ons het dit gedoen. Nou is dit ‘n massiewe sukses!” sê sy.
“Die liedjie is geskryf met die oog op ‘n TV-program, en presies sewe jaar later haal dit die lug. Die ironie is, ‘Verander jou siening‘ is op 5 Februarie 2019 bekendgestel. Toe VIA vir my die datum gee wat ons op lug gaan, is dit 5 Februarie 2026. Dit is beslis ‘n divine appointment’!”

Sy het al 13 liedjies uitgereik met nóg drie op pad. Foto: rooi rose
‘Verander jou siening’ die TV-program
“Ek wou die mooi in gestremdheid uitlig. Dit was vir my belangrik om die regte mense vir die program te kry en ek wou seker gemaak het dat elke differently abled-persoon reeds verby daardie fase van selfaanvaarding is sodat ons die humor kan uitbring,” sê sy. Die bekende persoon bring ‘n volle dag in die ander persoon se lewe deur, nie as toeskouer nie, maar as deelnemer. “Ons het al die emosies gevoel met die skiet van die reeks. Daar was eerlike gesprekke, ongemaklike situasies, baie lag en baie trane.”
Die grimeerkunstenaar, fotograaf, sanger en TV-aanbieder Willem Botha het ‘n dag in die skoene van Lizette Smith deurgebring. Lizette ly aan ‘n rare vorm van retinitis pigmentosa en het op 45 heeltemal blind geword. Deesdae is sy ‘n berader vir mense met fisieke gestremdhede en is ‘n Suid-Afrikaanse para-ruiter. Vir sy uitdaging moes Willem geblinddoek op ‘n perd se rug deur die dresseerbaan beweeg.
Hy vertel: “Dit was sonder twyfel een van die mees lewensveranderende ervarings wat ek nog gehad het. Ek is heeltemal uit my gemaksone geneem en is gedwing om nie net anders te kyk nie, maar ook anders te voel en te vertrou. Ek was 100% afhanklik van iemand anders se leiding en moes al my vertroue in hulle plaas. En toe besef ek ek het geen beheer nie. Ek moet vertrou. Ek moes ophou dink en net teenwoordig wees.”
Die uitdagings
Sumarie vertel sy het hard baklei om te kom waar sy wou wees en om die program op die lug te kry. “Mense was so bang dat dit sensitief sou wees of baie kritiek sou kry, want dit is wat programme oor gestremdheid tot dusver gekry het. Ons stories kry net aandag as dit hartseer is. Ek wou daai stigma breek. Jy kan die positiewe ook daarin sien. Ek het begin om te sê as ek net een siening kan verander, het ek my doel bereik. Maar die Here het gesê dit is soveel groter.”
In ‘n gedig wat sy self geskryf het, “Ek wens disability was ook ‘n trend”, sê Sumarie: Ek wens dit was ‘n trend om mense te vier wat net anders beweeg. Want as disability ‘n trend was, sou dit normaal word. En as dit normaal word, sou dit nie meer ‘n “ding” wees nie — net mense.
Lees ook: Wat gebeur in ‘Verander jou siening’ se tweede seisoen | rooi rose
