Verskaf deur kykNET
Ná ’n eerste seisoen wat kykers uitgedaag het om verby vooropgestelde idees en stereotipes te kyk, keer Govan Ontbloot terug na kykNET vir ’n tweede seisoen wat op Dinsdag 6 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.
Dié gewilde dokumentêre reeks, aangebied deur die bekroonde joernalis Govan Whittles, het weer 13 nuwe episodes wat uiteenlopende mense, gemeenskappe en leefwyses in Suid-Afrika ondersoek.
Soos in die eerste seisoen, bly Govan weg van sensasie en vooroordele. Met ’n eerlike, nuuskierige en empatiese benadering kry kykers toegang tot mense en wêrelde wat dikwels misverstaan, of eenvoudig ignoreer word.
‘Hierdie keer gaan dit oor geheime en gelowe sonder skaamte’
In die nuwe seisoen ontmoet Govan onder meer lede van ’n naturistegemeenskap, daggaboere wat deel vorm van ’n groeiende landboubedryf, slagoffers van plaasaanvalle, mense wat hulself sonder enige huiwering hekse noem en die groeiende wêreld van geeste en gode omarm. Hy gaan kuier by ‘n Vrystaatse familie wat hulself van die sameleweing afgesluit en hul eie kerk begin het, die invloedryke Crusaders-motorfietsklub, Vrymesselaars wat hul geheimsinnige tradisies uitleef, en inwoners van Onverwacht wat hulself met trots as Swart Afrikaners identifiseer.
Volgens Govan Whittles is die doel van die reeks steeds om begrip eerder as oordeel te bevorder.
“Ons delf nog dieper met mense wat skaars hulle kop uitsteek om deel te wees van die samelewing. Hierdie keer gaan dit oor geheime en gelowe sonder skaamte. Hierdie seisoen bied ons ’n worsteling met identiteit aan, en ’n ontmoeting met verskeie wêrelde agter die skerms.”
Die reeks word vervaardig deur Combined Artistic Productions, die span agter produksies soos Carte Blanche, Original Sin: My Son the Killer en Strangers You Know.

Volgens Govan Whittles is die doel van die reeks steeds om begrip eerder as oordeel te bevorder. Foto: kykNET
Govan se kenmerkende styl
Rudi Botha, uitvoerende vervaardiger, sê die nuwe seisoen bou voort op die benadering wat die eerste reeks so gewild gemaak het.
“Die tweede seisoen van Govan Ontbloot is hier en, soos met seisoen een, is Govan se nuuskierigheid die dryfveer om ongewone mense se dikwels vreemde lewenskeuses en sterk opinies te ondersoek. Deur sy oë neem hy ons op reis na hierdie wêrelde waar hy probeer uitvind wat dit alles vir hom oor menswees ontbloot.”
Mede-uitvoerende vervaardiger John Webb meen die reeks is veral relevant in ’n tyd waar mense vinnig oordeel sonder om werklik te probeer verstaan.
“In ’n wêreld waar opinie bo waarneming gestel word, en selfgeregtigheid bo begrip, poog Ontbloot om kwessies van identiteit, samehorigheid en gemeenskap te ondersoek. As deel van daardie reis onthul Govan sy eie vooroordele, onsekerhede en vooropgestelde idees. Ons hoop die gehoor geniet daardie reis net soveel soos ons.”
Met sy kenmerkende mengsel van ondersoekende joernalistiek, opregte gesprekke en visueel treffende storievertelling, beloof die tweede seisoen van Govan Ontbloot om weer gesprekke aan die gang te sit en nuwe perspektiewe op bekende én onbekende Suid-Afrikaanse ervarings te bied.
Die tweede seisoen van Govan Ontbloot begin Dinsdag 6 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook: Splinternuwe kykNET-reeks Boekmerk vier die krag van stories en lees | rooi rose
