Deur Maryke Roberts
Stanford is in sy geheel as erfenisgebied verklaar en die beste manier om dit te ervaar, is met die Historical Stanford on Foot-boekie wat by die toerismeburo te koop is. Dit sluit 58 historiese geboue in en die stap begin voor die biblioteek en volg die HW-teels vooraan elke gebou. Jy verken Caledon-, Kerk-, Du Toit-, Longmarket-, Quick- en Bezuidenhoutstraat. En nêrens is jy ooit te ver van die NG kerkgebou uit plaaslike sandsteen nie.
Ons ry net skuins na middagete op die Wortelgatpad uit. Die grondpad en padwerke dwing ons om stadig te ry. Ons lees die name van plase hardop en moet lag toe daar by Reiersvlei ‘n groot reier opvlieg. Ons sien ook twee hoenderhuisies met Kaaps-Hollandse gewels en swenk vir perdemis in die stofpad. Hier wag voorwaar iets besonders op ons, merk my geliefde op, toe die hek van Mosaic Lagoon Lodge oopgly.
Die Mosaic Lagoon Lodge
Die uitleg en argitektuur laat my op slag na die Bosveld verlang. Die oulike klipgeboue wat vyf kamers, ‘n kuiergedeelte, spa en restaurant insluit en onder horingoue melkhoutbome versteek is, kan tien volwassenes en twee kinders huisves. Jy is op die meer, en die water stoot danksy die gety só hoog op, jy kan jou verbeel jy is op ‘n boot.
Jy hoef tydens jou verblyf nêrens heen te gaan nie, daar is genoeg aktiwiteite vir gaste, soos ritte op die vierwielmotorfietse, pieknieks op die strand en wynproe– of voëlkyk-uitstappies. Jy kan ook of net rustig by die verhitte swembad ontspan.
Ons kamer kyk oor die meer uit — ‘n ware voëlparadys. Daar is kerse en ‘n mooi geraamde welkombriefie met ons aankoms. Daar is ‘n voëlboek in elke kamer en ‘n klein skoppie vir die talle klein sjongololo’s wat kom kuier. Elke kamer het ook sy eie besoekersboekie en dis lekker om van ander gaste se ervarings te lees nog voor jy jou skoene uitgeskop het.
Drankies en etes is by jou volpaket ingesluit, maar die Stanford-wynroete met heerlike restaurante, bierbrouerye en buitelugstoepe, is aanloklik.
- Ons Mosaic Lagoon Lodge kamer kyk oor die meer uit. Foto: rooi rose
Die gin & tonic op die houtstoep voor die restaurant is verkwikkend ná die paar uur in die motor. Ons gesels met Britte wat tot op George gevlieg het en so kuier-kuier teen die Tuinroete af is voor hulle vyf nagte hier vertoef.
Lloyd kom vra wie vir vierwielmotorfietsritte lus is, maar hulle wil lees. Ons is egter baie ingenome en gou-gou brul die stewige klein motorfietsies met ons gids heel voor.
Die paadjie wat ons pas gery het, krul soos ‘n klein slangetjie terug in die fynbosvlakte. Die berge het ‘n teenwoordigheid. Dis oral om jou. In die verte gly ses seilbote oor die water. Die reuk van fynbos vul ons neuse en die uitsig van bo by die 376 ha-eiendom se baken, is selfs nog mooier as daar op die water.
Ons verblyf is uitsonderlik danksy die keurige oog van die eienaar, Maryke de Villiers, en haar puik span. Jy kort niks, alles is mooi en sy het regtig aan al jou behoeftes gedink — selfs badsout en kerse by die ronde bad.
Stanford en omliggende besienswaardighede
Die koue vonkelwyn dans op ons tonge toe ons dit met sononder op die houtdek geniet. Ons geniet heerlike kos en wyn voor die kaggelvuur en vir die volgende aand bespreek ons by die nabygeleë wynplaas Springfontein se opskietrestaurant, Wortelgat.
Teen ontbyt die Saterdagoggend reën dit lang druppels teen die ruite af. Dis grys buite en die wind maak golwe op die water. Ons ry in dorp toe vir koffie en om by die markie rond te loop.
Die wit vlaggies van die Stanford Square Market op die plein voor die munisipale kantore wapper vrolik. Verder af in die straat is die markie — hier lok veelkleurige vlaggies, groot glimlagte en groente uit locals se tuine jou nader. Ons proe en kuier deur die hoofstraat en doen by stalletjies aan.
Die boekwinkel waarby ons wil aandoen, het na die hoofstraat geskuif en dit gee ons kans om weer by die stalletjies verby te stap en tog wel die rooi emaljebakkie vir ‘n vriendin te koop; sepies by Antjies te ruik en nog ‘n pannekoek in die kies te druk.
Ons geniet ‘n ligte middagete terug by ons verblyf, voor ek vir ‘n halwe middag by die swembad my gin & tonic geniet terwyl my geliefde fietsry.
- Die Stanford-wynroete met heerlike restaurante, bierbrouerye en buitelugstoepe, is aanloklik. Foto: rooi rose
Lui-lekker middag en ‘n digby Michelin-ster-restaurant
Dis tyd om na die spa vir ‘n lekker paartjie-massering oor te stap. Die loomheid daarna dryf ons stoep toe met ons boeke, ‘n glas rooiwyn en whiskey op die stoel se handreling. Ons verkykers is gereed om elke voëlbeweging waar te neem, te bespreek en te waardeer.
Die warm stort het die gewenste uitwerking gehad en ons is lekker honger toe ons teen skemer by Springfontein indraai. Die plaas het nie net bekroonde wyne nie, die opskietrestaurant se sjefs en eienaars spog met twee Michelin-sterre in hul restaurant, De Kromme Watergang, in Hoofdplaat, Nederland. Dit is vanjaar die tweede jaar dat hulle die deure in Nederland vir die winter sluit en dan die lekker Suid-Afrikaanse somers kom geniet.
Die pa-en-seun-duo, Edwin en Tom Vinke, is geen vreemdelinge vir lof nie en in die 2021-uitgawe van die Michelin-gids skryf die beoordelaars dat die restaurant beslis die ompad na Hoofdplaat werd is.
Ek kan getuig dat Wortelgat ook beslis die ompad om die Stanford-meer werd is; dat die kos uitstekend is en jou letterlik blootstel aan alles; van soutslaai wat op die duine gepluk word, tot die vis wat hulle self vang.
Edwin en Blanche Vinke het De Kromme Watergang in 1993 oopgemaak en baie meen dat hulle die afgelope drie dekades daar die land se beste seekos op ‘n bord bedien. Met die jonger Tom saam met sy pa in die kombuis, word daar voortdurend nuwe goed probeer en getoets.
Hul klein span Nederlandssprekende gasvroue reis saam om te verseker dat gaste dieselfde wêreldklasdiens as by hul Nederlandse restaurant geniet. Verlede jaar het van die Suid-Afrikaanse restaurantspan ook na Nederland saamgereis om daar te gaan werk.
Die Vinke se kos is kuns en omtrent elke gas neem eers foto’s af voor die eerste happie op jou tong smelt.
- Die Vinke se kos is kuns en omtrent elke gas neem eers foto’s af voor die eerste happie op jou tong smelt.
- Dit was tyd om na die spa vir ‘n lekker paartjie-massering oor te stap.
Die wêreldklas-ete
Die spyskaart is in ses, sewe of agt gange — met of sonder wynpasmaats — beskikbaar en mense ry van heinde en ver om hier te kom eet en aan die wyne van Springfontein te teug. Die plaas se hooffokus is pinotage en al meer chenin. Die druiwe word langer in die wingerde gelos sodat die doppe, steeltjies en pitte almal ten volle vir ‘n uitsonderlike wyn kan ontwikkel.
Die hoogtepunt van die aand is die kaas- en soetgoedtrollie, en die Nederlanders by die tafel langs ons, is tog te trots om te sê die tradisionele koekies “kletskop” op ons bord, is van hul gunstelinge. “Kletskop, net soos ek,” glimlag die vaalblonde man en lig sy glas in ons rigting.
Saans voor slaaptyd is ons terug op die stoepie met ‘n glasie sjerrie wat langs ons bed gelos is en kyk na die sterre en luister na die naggeluide. Hoewel dit pikdonker is, weet jy enkele meters voor jou Adirondack-stoel, sit honderde voëls op graspolle en slaap. Die paddakoor is in volle gang en die water maak klein golfies wat soos musieknote op jou ore val.
Hemel op aarde? Amper ja.
Lees ook: Een springbok, twee bekende sjefs | rooi rose









