Die eerste T20-wedstryd tussen die Proteas en die Wes-Indiese toerspan het op Boland Park, ’n duidelike beeld gegee van die twee spanne se vorm en voorbereiding vir die ICC 2026 T20 Wêreldbeker wat vanaf 7 Februarie tot 8 Maart gesamentlik deur Indië en Sri Lanka aangebied word.
Die eerste T20-wedstryd tussen die Protea-manspan en die Wes-Indiese toerspan het op Boland Park, Dinsdag 27 Januarie, plaasgevind. Nadat die toerspan Kaptein Rovman Powell die loot gewen het, het hy besluit om eerste te kolf.
Die Wes-Indiese span kon net 173/7 in hul toegelate 20 boulbeurte aanteken. Brandon King het vinnig 27 (16) geslaan, terwyl Shimron Hetmyer met 48(32) het die enigste ware stabiliteit gebring het. Kaptein Rovman Powell het met 29* probeer weerstand bied, maar die res van die kolflys het onder druk gevou. George Linde was die uitblinker vir die Proteas met boul syfers van 3/25, terwyl Keshav Maharaj en Corbin Bosch elk twee paaltjies geneem het.
Suid-Afrika se Lhuan-Dre Pretorius het met 44 (28) die fondament gelê, waarna Aiden Markram die wedstryd met ’n goeie vertoning afgesluit het. Hy het 86*(47) geslaan, met nege viere en drie sesse, en die Wes-Indiese boulers les laat opsê. Ryan Rickelton het ook uitstekend vertoon met 40* (32). Die Proteas het die teiken gemaklik in 17.5 boulbeurte bereik en met nege paaltjies gewen.

Die Wes-Indiese boulers het min antwoorde gehad. Roston Chase het die enigste paaltjie geneem, terwyl Jason Holder en Akeal Hosein deur die Protea kolwers gemoker is. Die Proteas se kolfwerk was aggressief, goed berekend en vol selfvertroue, wat die tuisskare in die Paarl ’n aand van Calypso-krieket gegee het.
Vir die Proteas is hierdie oorwinning ’n belangrike begin tot die reeks. Dit wys dat die kombinasie van jong talent en senior ervaring vrugte begin afwerp. Markram se vorm en Rickelton se selfversekerde vertoning gee die span momentum en selfvertroue vir die res van die T20-wedstryde. Die Wes-Indiese span sal egter vinnig moet hergroepeer as hulle enige kans wil hê om terug te slaan in die reeks.
Die openingswedstryd het ’n duidelike boodskap aan die Windies gestuur dat die Proteas vasberade is om die reeks te domineer, terwyl die Windies nog soek na antwoorde teen ’n Protea-span wat in topvorm lyk. Die tweede T20 wedstryd vind op Vrydag 29 Januarie by Super Sport Park in Centurion Pretoria plaas terwyl die derde en laaste wedstryd Saterdag 31 Januarie op Nuweland in Kaapstad begin.
Beide spanne gebruik die KFC T20-reeks van drie wedstryde as hul finale voorbereiding vir die ICC T20 Wêreldbeker wat op 7 Februarie in Indië en Sri Lanka begin.






You must be logged in to post a comment.