Die Wellington-polisie het bevestig dat “verskeie sake van bedrog en diefstal” die afgelope maand aanhangig gemaak is teen Gerhard Fick, die eienaar van MBC Estates in Wellington, wat se deure onlangs gesluit het.
Volgens kol. Johan Barkhuizen, stasiebevelvoerder van die Wellington-polisie, kan inligting nog nie bekend gemaak word nie omdat die ondersoeke “in die beginstadium” en “baie sensitief” is.
Twee plaaslike huiseienaars, wat beide hul eiendomme deur MBC Estates gekoop en toe verhuur het, beweer dat Fick met hul huurders se deposito’s asook van die huurgeld weg is.
Volgens ‘n woonsteleienaar wat ‘n tweeslaapkamerwoonstel in die Riverside-kompleks besit, en wat dit in 2021 by MBC Estates gekoop en toe vir Fick en MBC Estates aangestel het as die huur- agent, sukkel hy sedert November verlede jaar om sy huurgeld van ongeveer R8 000 betyds te ontvang.
Volgens die woonsteleienaar, wat ook in Wellington woon, is die huurgeld sedert November verlede jaar elke maand laat aan hom oorbetaal, met Februarie as die uitsondering. In Maart het hy glad nie sy huurgeld ontvang nie, waarna hy die nuus ontvang het dat MBC Estates gesluit is en ‘n plaaslike prokereursfirma die verhuring oorgeneem het.
Die woonsteleienaar het ongeveer R17 000 verloor, wat insluit Maart se huur asook sy huurders se deposito wat hy moontlik weer in geheel aan hulle sal moet teruggee.
Volgens hierdie eienaar het hy ‘n saak teen Fick by die Wellington-polisie aanhangig gemaak, waar die polisiekantoor hom meegedeel het dat hy ten minste die vyfde persoon is wat tot onlangs ‘n saak teen Fick aanhanging gemaak het.

Nóg ‘n woonsteleienaar wat ook ‘n tweeslaapkamerwoonstel in dieselfde kompleks besit, vertel dat dieselfde met hom gebeur het.
Volgens dié eienaar het hy sy woonstel drie jaar gelede by MBC Estates gekoop en daarna vir Fick as huuragent van die woonstel aangestel.
Ook dié eienaar sukkel reeds vir ses maande om sy huurinkomste van sowat R8 000 by MBC Estates te kry. Hy het in die proses ongeveer R30 000 verloor weens drie maande se onbetaalde huur, asook geld van ‘n munisipale rekening wat aan hom verskuldig is.
Beide eienaars het gesê dat Fick aan die begin stuk-stuk die huurgeld oorbetaal het nadat hulle dikwels daaroor navraag gedoen het, maar dat dit ‘n punt bereik het waar hul glad nie hul huurgeld ontvang het nie.
Paarl Post het uitgereik na die Property Practitioners Regulatory Outeurity (PPRA) om navraag te doen of MBC Estates en Fick by die liggaam geregistreer is, maar het geen terugvoering ontvang nie.
Die koerant het ook uitgereik na Fick, wat in antwoord gesê het dat hy geen kommentaar wil lewer nie.


