Twee polisielede, ao. Swannie Swanepoel en sy “kollega” Parco, het die polisie se amptelike operasionele plan vir ‘n Veilige Feestyd op ‘n geleentheid op Donderdag 29 Oktober in Bultfontein oorhandig.
Dié span vorm deel van die polisie se spesiale taakmag wat tydens die feestyd ‘n ogie oor vakansiegangers gaan hou. Swanepoel en Parco is van 13 Desember tot die einde van die skoolvakansie by die Vaaldam aan diens.

Hulle is een van slegs twee K9 soek-en-reddingspanne van die polisie in die Vrystaat. Hulle is by die Parkweg-polisiekantoor gestasioneer, maar reis die hele provinsie vol, en selfs ook na ander provinsies. Hulle was selfs al vir buitelandse operasies op bystand.
Parco, ‘n vierjaaroue Belgiese Malinois, is dikwels die held van ‘n reddingsoperasies en is opgelei om mense te vind.

Swanepoel vertel hulle word dikwels na situasies ontplooi waar iemand verdrink het. Hy sê selfs as ‘n liggaam in water is, kan Parco die olies en gasse ruik en vir polisieduikers aandui waar hulle moet soek.
“Parco is mal oor swem,” vertel Swanepoel. “Toe hy jonger was, was hy aanvanklik nie so lief vir water nie, maar nou is hy mal daaroor. Selfs as ons ‘n aftydjie het, neem ek hom om te gaan stap en swem.”
Met soektogte gebruik Swanepoel glad nie ‘n kledingstuk van die vermiste nie omdat daar te veel ander reuke aan dit kleef.
LEES OOK: Police dog uncovers human remains in rubble of burnt building in Bloemfontein
Dit is belangrik dat hulle fiks is. “Ons werk dikwels op moeilike terrein en moet soms vir ure lank soek. Soms moet ons weer en weer na ‘n toneel terugkeer – soos met die onlangse brand in die middestad waarin ‘n individu gesterf het. Dit het ons byna ‘n week geneem, maar ons het sukses gehad.”
Hy vertel Parco kan selfs ‘n lyk wat begrawe is, uitsnuffel. “Hy kan maklik ‘n lyk vind wat tot 2 m diep lê.”

Swanepoel sê wat baie verdrinkings veroorsaak, is kinders wat in allerlei waterpoele swem. “As dit warm word soos nou, gebeur dit dikwels dat kinders in gate en enige water wat opdam, swem.
Die span was Sondag 1 November betrokke by die soktog na die 13-jarige Kamohelo Mokhethi van Sunrise View by Thabong. Kamohelo en sy twee vriende het Saterdag 31 Oktober in ‘n gruisgroef naby die Erfdeeweg geswem, toe sy vriende gesien het hoe die seun onder die ater verdwyn.
Parco was deel van die soekgeselskap van Welkom en Bloemfontein se polisieduikeenheid wat uiteindelik die kind se lyk uit die water gehaal het.
LEES OOK: 13-year-old boy drowns in Thabong quarry
“Die uitkoms van ‘n soektog kan goeie of slegte gevolge,” sê Swanepoel. “Vir my is dit belangrik dat familielede afsluiting kan vind en weet wat van hul geliefde geword het.”

Dit is egter nie net kinders wat verdrink nie. “Mense wat aan doopseremonies in riviere deelneem, beland dikwels in die moeilikheid. Wanneer ‘n rivier afkom, kan ‘n soekgeselskap nie in die water kom nie en moet ons eers wag tot die ergste vloed verby is.”
Sulke seremonies vind dikwels in die Caledon- en Sandrivier plaas en hulle moes al dikwels daarheen vir soek-operasies gaan. Swanepoel en Parco gaan ook dikwels soekgeselskappe in die berge help.
“Ons oefen dikwels op die warmste tyd van die dag, want wanneer dinge gebeur, moet Parco aangaan, selfs al is dit warm. As hy sukses behaal, kry hy beslis ‘n beloning,” vertel Swanepoel.
Dit kan iets soos ‘n steak of ‘n hoefie met grondboontjiebotter gevul wees.
Want ‘n man se beste vriend verdien ‘n bederfie so af en toe.







You must be logged in to post a comment.