SALDANHA – Beweerde “nuwe verwikkelinge” in die soeke na die vermiste Joshlin Smith van Saldanha het mense ver en wyd weer aan die gons.

Joshlin (toe ses jaar oud) is twee jaar gelede, op Maandag 19 Februarie 2024, deur haar ma Kelly Smith (toe 33 jaar oud) by die Saldanha-polisiekantoor as vermis aangemeld.
Die groenoogkind is steeds nie opgespoor nie, maar Kelly en twee medebeskuldigdes is in 2025 reeds skuldig bevind aan ontvoering en mensehandel.
Volgens ‘n nuwe video en opvolg-plasings, wat sedert Vrydagaand die ronde op sosiale media doen, word dit beweer dat ‘n toestel gebruik is om die ontbinde oorskot van Joshlin te vind. Een plasing beweer dat ‘n kadawerhond (‘n soort hond wat opgelei is om die reuk van menslike oorskot op te tel) die bevindinge bevestig het.
Volgens ‘n gemaak op Facebook deur Justice for Rev. June Dolley Major and for All Victims/Survivors for Abuse, is items wat die maand gevind is per koerier na Bloemfontein gestuur om deur Danie Krugel, ‘n afgetrede polisieman, se toestel verifieer te word.
LEES OOK: Gayton glo steeds dat Joshlin lewe en wys vinger na Ayanda
Rev. June Dolley-Major beweer dat een item geplaas is in ‘n openbare park en dat die kadawerhond reguit na die spesifieke item gehardloop het wat bewys dat die hond opgelei is om die reuk van menslike oorskot op te tel.
Hierdie plasings is gemaak op haar openbare blad met sowat 46 000 volgelinge.
Mense het op sosiale media hul menings uitgespreek waar party die egtheid van die plasing bevraagteken het terwyl ander wel glo dat dit die waarheid is.

In ‘n verklaring uitgereik op Facebook deur Dolley-Major sê sy dit het onder haar aandag gekom dat bewerings daarop aandui dat sy bevestig het dat die oorskot van Joshlin gevind is.
“Op geen stadium het ek gesê dat haar oorskot ontdek is nie. Wat ek wel duidelik gestel het, is dat sekere items gevind is wat soos bloed gelyk het en ‘n sterk, ontbindende reuk gedra het. Hierdie bevindinge het ernstige kommer gewek en onmiddellike aandag geregverdig. ‘n Item is aanvanklik aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens oorhandig. Geen opvolg is gedoen nie, en geen verklaring is afgelê nie. Hierdie gebrek aan reaksie is diep kommerwekkend.
“Vervolgens is bykomende items gevind. Dit is na Danie gestuur vir voorlopige assessering om te bepaal of daar enige verband met Joshlin Smith was. Van die eerste stel items het een positief getoets, met sigbare aanduidings wat soos bloed lyk.

“Daardie spesifieke item is toe in ‘n openbare park geplaas, waar ‘n opgeleide kadawerhond die teenwoordigheid daarvan positief aangedui het.”
Dolley-Major het weer klem daarop gelê dat sy nie gesê het dat oorskot gevind is nie, maar wel ‘n positiewe aanduiding wat met Joshlin verband hou, en dat onmiddellike en behoorlike forensiese ondersoek versoek is.
Kaptein FC van Wyk, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie sê die polisie neem kennis van die video en op grond hiervan word sosiale media-gebruikers gewaarsku teen die plasing van ongeverifieerde inligting hieroor. “‘n Pleidooi word hiermee gerig aan sosiale media-gebruikers om hierdie platforms verantwoordelik te gebruik en die bron sowel as die egtheid van die inligting te verifieer voordat dit gedeel word,” sê Van Wyk.
LEES OOK: 19 Februarie: Joshlin Smith se verdwyning skok die land al vir twee jaar lank



You must be logged in to post a comment.