Tragedie tref Macassar
Polisiebeamptes op die toneel waar ‘n ouma (70) en haar 14-jarige kleindogter gisteroggend (Dinsdag 21 April) in Macassar Heights in hul huis dood aangetref is. Foto: Jamey Gordon

SOMERSET-WES – Die Macassar-gemeenskap gaan gebuk onder dubbele koue – die ysige winterwind en die yslike hartseer ná die tragiese verlies van twee gesinslede.

‘n Gesin is diep in rou gedompel nadat ‘n ouma en haar kleinkind Dinsdagoggend (21 April) dood in hul woning aangetref is.

Die Macassar-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen na aanleiding van die tragiese toneel wat polisiebeamptes by ‘n woning in Macassar Heights aangetref het. Volgens die polisiewoordvoerder adjudant-offisier Desire Adendolf is hulle om 06:50 na die toneel ontbied. Adendolf verduidelik dat die 70-jarige grootmoeder en die 14-jarige kleindogter deur ‘n familielid ontdek is wat hulle dié oggend wou wakker maak.

Voorlopige inligting dui daarop dat die gesin die vorige aand ‘n vuur met houtskool in ‘n klein braaibak gemaak het om kos gaar te maak. Dit blyk die braaibak is gedurende die nag na die slaapkamer verplaas. ‘n Familielid wat die volgende oggend die kamerdeur oopgemaak het, kon nie die twee wakker maak nie. Paramedici het albei op die toneel dood verklaar.

Tragedie tref Macassar
‘n Hartverskeurende toneel het buite die Macassar Heights-woning afgespeel waar bedroefde familielede en gemeenskapslede in skok en ongeloof bymekaar gedrom het nadat ‘n ouma en kleindogter binne leweloos aangetref is. Foto: Jamey Gordon

DistriksPos & Helderberg Gazette was teenwoordig terwyl familie- en gemeenskapslede geskok en bedroef buite die woning saamgedrom het. Polisiebeamptes het intussen hul ondersoek voortgesit, terwyl selfs jong skoolvriendinne in hul uniform met trane in hul oë na die hartseer toneel gestaar het.

Alicia Keet, hoof van die Hoërskool Macassar waar die 14-jarige ‘n gr. 8-leerder was, het namens die skoolgemeenskap haar hartseer uitgespreek oor die verlies van ‘n jong lewe vol belofte. Sy beskryf die oorlede leerder as geliefd onder mede-leerders en personeel – veral diegene wat haar akademiese reis van Valsbaai Primêre Skool gevolg het.

“Almal onthou haar as ‘n oulike, gedissiplineerde en pligsgetroue kind,” vertel Keet.

Sy noem ook die meisie se aktiewe deelname aan sport, veral haar bydrae tot die o.15-netbalspan se onlangse oorwinning.

“Ons het dadelik met haar klasmaats gepraat en nege van haar naaste vriendinne eenkant geneem vir spesiale ondersteuning.
“Die onderwysdepartement is ook in kennis gestel om professionele berading te reël.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article