Kol. Jacqui Johnson by die Strand-polisiekantoor waar sy nuwe leierskap bring
Met 38 jaar ervaring bring kol. Jacqui Johnson nuwe leierskap na die Strand-polisiekantoor. Foto: Barend Williams

“Ek is nie hier om te verander wat werk nie, maar ek gaan kyk na die gebiede wat verbetering benodig.”

Só sê kol. Jacqui Johnson, Strand se nuwe polisiebevelvoerder, wat haar eie soort kreatiewe leierskap na die polisiekantoor bring.

Dié 57-jarige, wat net minder as drie maande gehad het om haar voete in haar nuwe omgewing te vind, is gereed om misdaad in Strand aan te pak met haar unieke benadering tot polisiëring nadat sy die teuels op Maandag 17 November ná die aftrede van die kantoor se vorige bevelvoerder, kol. Atwell Nodume, oorgeneem het.

Johnson bring ‘n rykdom ervaring saam as ‘n 38-jaar-veteraan van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Dit is haar derde aanstelling as stasiebevelvoerder sedert sy in 1988 by die polisiediens aangesluit het.

Haar filosofie is eenvoudig maar kragtig: “Ek plaas myself in die skoene van enigiemand wat hierdie polisiekantoor binnestap, en in die geval van ‘n vermeende oortreder kyk ek na hulle en behandel hulle asof dit een van my broers kon gewees het,” het sy gesê.

Hierdie benadering spruit voort uit haar eie lewensreis. Johnson, wat in Simonstad gebore is, maar in Ocean View grootgeword het, het nooit beplan om ‘n polisiebeampte te word nie. Dit was druk van vriende wat haar in 1988 laat aansoek doen het.

“As ek terugkyk, glo ek dat dit God se roeping in my lewe was, want ek is lief daarvoor om te dien en geniet dit om ‘n verskil in mense se lewe te maak,” verduidelik sy.

“Dit is dus nie ‘n werk nie; dis regtig my lewensroeping.”

Hierdie roeping het haar deur verskeie kantore gelei – van Bishop Lavis en Athlone tot Vishoek, Ocean View, Simonstad en Muizenberg – waar sy van konstabel tot kolonel gevorder en waardevolle ervaring as stasiebevelvoerder opgebou het.

Haar onmiddellike prioriteite vir Strand is duidelik gedefinieer. Al is sy aangenaam verras deur die voldoende hoeveelheid personeel wat sy tot haar beskikking het, is sy bewus van die gebrek aan voertuie – iets waaroor inwoners van Strand al geruime tyd kla.

Met dít in gedagte het sy drie probleme uitgeken, wat sy direk wil aanpak. Die eerste is dienslewering wanneer beamptes klagtes binne die gemeenskap hanteer en gehalte-ondersoeke na misdade wat klaers ingelig hou. Die tweede is drank- en dwelmgebruik en laastens bende-aktiwiteit.

“Met genoeg personeel is dit haalbaar,” sê sy, wat die gemeenskap se bekommernisse direk in die kollig plaas.

Misdaad is ons gemeenskaplike vyand. Die polisie is nie die vyand van die gemeenskap nie, en die gemeenskap is nie ons vyand nie.

Johnson erken die uitdagings rondom leierskapstabiliteit. Sy is die derde stasiebevelvoerder wat die Strand-polisie in 2025 gekry het, wat vrae laat ontstaan oor langtermyn-misdaadvoorkomingstrategieë en verhoudingsbou.

“Ek kan vir die gemeenskap sê die hoofde is daar en vir die kantoor om te funksioneer, moet daardie hoofde daar wees,” het sy verduidelik.

Die hoofde na wie sy verwys, is die stasiebevelvoerder, speurbevelvoerder, ondersteuningsbevelvoerder, misdaadinligting-analisebeampte en bestuursinligtingsbeampte, met die hoof van sigbare polisiëring wat in Februarie aangestel sal word.

Maar sy is ook realisties oor die toekoms: “Ek is nou hier, want dit is waar ek glo God my geroep het om nou te wees. My bestuurders is nou hier, maar ons weet nie wat môre inhou nie. En as daar ‘n probleem is, sal die polisie altyd hier wees.”

Vir Johnson draai dit alles om vennootskap.”Ons besef as ‘n organisasie kan ons dit nie op ons eie doen nie. Ons het dus ons vennote in misdaadvoorkoming nodig,” sê sy.

“Misdaad is ons gemeenskaplike vyand. Die polisie is nie die vyand van die gemeenskap nie, en die gemeenskap is nie ons vyand nie.”

Sy wil met die gemeenskap saamwerk om ‘n volhoubare toekoms te skep en het die gemeenskap opgeroep om die fluitjie te blaas as hulle bewus is van korrupsie binne haar geledere, maar het hulle ook gesmeek om nie haar beamptes met klippe aan te val nie.

Haar boodskap is duidelik: “Dis ons kinders wat ly. Dit is ons jong mans wat in hierdie dwelms vasgevang is, en ons jong meisies wat seksueel aangerand word omdat iemand dronk of op dwelms is.”

Johnson se uitnodiging aan die Strand-gemeenskap is eenvoudig: “Kom werk saam om misdaad te bekamp en ‘n veiliger toekoms vir almal te bou.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article