Ná vier jaar se geswoeg en sweet, is die ikoniese vuurtoring-aanleg in L’Agulhas uiteindelik teen ‘n koste van R81 miljoen voltooi en op 14 April amptelik geopen toe die minister van toerisme, Patricia de Lille saam met die minister van bosbou, visserye en omgewingsake, Willie Aucamp die lint geknip het.
Daarna het die twee vernuftig saam geskoffel in ‘n reusemarkiestent waar toehoorders vergas is op flinke danspassies van Struisbaai Primêre Skool en die volkslied, treffend uitgevoer deur Zoetendal Akademie. ‘n Aantal sprekers het die gehoor ingelig omtrent die betekenis van hierdie mylpaal vir Suid-Afrika in die algemeen en die Suidpunt in die besonder. Aucamp het in sy rede gese: “Kom soek jou ware noord hier” – ‘n verwysing na die kompas-verskynsel wat volgens oorlewering by die berugte naalde van Kaap Agulhas ondervind word.
Van die verhoog af was sprekers dit eens dat die regering (De Lille en Aucamp dien saam in die regering van nasionale eenheid, hoewel hulle aan verskillende partye behoort) nie werk skep nie, maar dat hulle die omgewing skep vir werksgeleenthede. Die projek het tydens die konstruksiefase aan 117 mense werk gebied en daar is 30 voltydse poste geskep. Drie hoof-elemente word hier saamgesnoer, tewete maritieme -, kulturele -en omgewingselemente.
Vir die tussentydse voorsitter van die raad van Suid-Afrikaanse Nasionale Parke, Beryl Ferguson, gaan dit primêr oor inklusiewe kuratorskap. Die aanleg is ‘n gesamentlike projek van die departement van toerisme en SANParke. Dit omvat onder meer ‘n vertolkingsentrum, geskenkwinkel vir plaaslike hand- en kunswerk, en ‘n restaurant met sitplek vir 60 mense met die gepaste naam Needles.

Die teenwoordiges het die geleentheid gekry om vrae te stel. Van die belangrikste punte wat gemaak is, sluit in:
· Die beoogde kernkragstasie naby Bantamsklip, Pearly Peach, gaan volgens kommentaar uit die gehoor die visse verdryf en die plaaslike gemeenskap gaan daaronder ly. Hierop het minister Aucamp geantwoord dat daar ‘n balans moet wees. “Die ekonomie en die omgewing staan nie in konflik teenoor mekaar nie. Die omgewing moet beslis nie benadeel word nie. My departement sal alle appélle hanteer.” Hy het in sy toespraak melding gemaak dat daar ‘n uitvoerbaarheidstudie gedoen moet word om vas te stel wat hier kan werk. “Dit is nie waar dat ekonomiese groei in die pad van die omgewing moet kom nie. “
· Infrastuktur en dienslewering is per slot van rekening die verantwoordelikheid van munisipaliteite en plaaslike owerhede. “Dis onaanvaarbaar dat ‘n buitelandse toeris sy geld hier kom uitgee en hy ontdek daar is nie water wat by die krane uitkom nie”, aldus Willie Aucamp. “Ons moet eenvoudig werkende munisipaliteite hê”, stel De Lille dit sonder om doekies om te draai.
Vir De Lille is Afrika nie slegs die wieg van die mensdom nie, maar die wieg van kultuur. Sy het voorts die volgende beklemtoon:
· “Hierdie aanleg moet die spil van hele streek wees en die voordele wat hy gaan skep moet deur die hele distrik verprei word.
· “Hierdie gaan alles oor julle, die mense. Ons as owerhede gee dit nou terug aan die gemeenskap.”
· “Ons moet uitreik na die gemeenskap en hulle moet ons vertel wat die toeriste-aantreklikhede is.”
· “Toerisme-aandenkings van so ver soos Buffeljags moet hier te koop aangebied word.”
· “13 toeriste skep een direkte werksgeleenthede en twee in direktes. Die digitale infrastuktuur van vandag is rekenaars. Ons wil dit hier in aksie sien.”
· “Plaas Kaap Agulhas vandag op jou emmerskoplys!”





