Henry Parsons van Kroonstad blink uit in gholf
Henry Parsons (12) van Kroonstad is begin September vir die o.13-Vrystaat-gholfspan gekies wat aan die Nomads- nasionale kampioenskap sal deelneem. Foto: Verskaf

Die Magaliespark-gholfbaan by Hartbeespoortdam wink vir ‘n talentvolle jongeling van Kroonstad wat die Vrystaat-span in die Nomads- nasionale kampioenskap vir o.13-seuns sal verteenwoordig.

Henry Parsons (12) is slaggereed om van 7 tot 9 Oktober die stokke ‘n tweede keer vir sy provinsie te swaai, nadat hy dit ook as o.11-speler gedoen het. Hy is ‘n gr.7-leerling aan Trio Primêr.

Om vir insluiting in die Vrystaatspan te kwalifiseer moet spelers aan agt toernooie in ‘n jaar deelneem.

Henry Parsons (12) is vanjaar ‘n tweede keer vir die Vrystaat-gholfspan gekies.

Sedert Henry vier jaar gelede die eerste keer sy hand aan die gholfstok gewaag het, was daar nog geen omkeer vir sy liefde vir dié sportsoort nie.    

Onder leiding van sy pa, Cecil, wat hom hoofsaaklik afrig, en die gesoute gholfspeler Jaco Froneman van Kroonstad, asook Corné Viljoen, direkteur van Vrystaat junior gholf, word sy vaardighede en tegnieke tot uitnemendheid geslyp. Hy oefen minstens twee keer per week, hoewel sy skoolverpligtinge en deelname aan ander sportsoorte hom druk besig hou. Henry is ‘n veelsydige sportman wat vir sy skool krieket en rugby speel.

Gholf kan ‘n uitdagende sportsoort wees wat baie geduld verg. Dit vereis ‘n positiewe ingesteldheid, deursettingsvermoë en harde werk om suksesvol te wees. – Henry Parsons

Ondanks die harde werk wat dit vereis, hou gholf vir Henry tog heerlike ontspanning in. Dit is wanneer hy van alles kan vergeet: terwyl hy die beoefening van dié sportsoort in die natuurskoon geniet.

Henry beoog om eendag ‘n professionele gholfspeler te wees. Intussen het hy egter een groot wens: om binnekort sy eerste kolhou te slaan.  

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article