SOMERSET WEST – Hoërskool Parel Vallei het weereens bewys hulle is die kroonprinse van jeugteater deur die gesogte ATKV-Tienertoneel finaal 2025 te wen. Met ‘n ongelooflike rits oorwinnings sedert 2021, het Parel Vallei hulself vir die vyfde agtereenvolgende jaar as nasionale wenners gekroon met hul produksie, Wegwêreld Slegwêreld.

Die skool het ‘n uitsonderlike prestasie behaal deur twee van hul produksies, Wegwêreld Slegwêreld en Grootvoet, tot in die finaal te kry.
Mnr. Darryl Spijkers en me. Willene Potgieter, saam met die drama-leerders, is geloof vir hul “uitsonderlike toewyding, harde werk en kreatiewe gees.”
Die skool het ook die aankondiging met ‘n oulike video op sy Instagram-profiel gedeel.
Parel Vallei se indrukwekkende pryse sluit in:
- Nasionale Wenner 2025: Wegwêreld Slegwêreld
- Beste Verhoogbestuurder: Anneh Mitrovich (Wegwêreld Slegwêreld)
- Beste Hantering van Tegniese Aspekte: Parel Vallei
- Beste Kameeverskyning: Alistair Jones & William Le Roux (Grootvoet)
- Beste Akteur in ‘n ondersteunende rol: Francios Retief (Grootvoet)
Verdere nominasies wat die skool verwerf het:
- Beste Klankoperateur: Anya Rosenstrauch en Johann Malan (Wegwêreld Slegwêreld)
- Mees belowende akteur in ‘n rol: Celeste Grobler (Wegwêreld Slegwêreld)
- Beste Akteur in ‘n hoofrol: Francios Retief (Wegwêreld Slegwêreld)
- Beste Aktrise in ‘n hoofrol: Carla Moses (Grootvoet)
Die skool het ook hul hoofborg, HVM Accountants, bedank vir hul deurlopende ondersteuning oor die afgelope twee jaar.
In ‘n ander triomf vir die streek, is gelukwense ook uitgespreek aan Laerskool De Hoop Primary, wat die eerste plek in die ATKV-Tjokker finaal behaal het.





