Young Blues se klubvoorsitter, Tony Julies, en president, Jacob Adonis, by die 50ste bestaansjaarvieringe die afgelope Sondag. Foto: Denshir de Koker

Wellington se rugbyklub Young Blues is 50 jaar oud. Dié klub het hierdie mylpaal die afgelope Sondag (26 April) met ‘n dankseggingsdiens by die VGK Wama- kersvallei gevier.

Paarl Post het by die spesiale geleent- heid met die voorsitter, Tony Julies, gesels. Volgens Julies verteenwoordig die eerste halfeeu veel meer as net ‘n getal. “Dit is ‘n bewys van volharding en toewyding oor vyf dekades. Die klub het ten spyte van uitdagings bly voortbestaan en ‘n belangrike rol in die gemeenskap vervul. Young Blues is diep in die harte van ons mense gewortel en dien as ‘n bron van trots.”

Julies wys op die klub se stadige opgang deur die ligas. “Ons het in die destydse Superliga D begin en later na Superliga C gevorder. In 2019 het ons die Top-12 gehaal en vir die Streeksuitdaag­liga gekwalifiseer. In 2022 was ons die naaswenners in die Top-14 en het ons promosie na die Grootuitdaagliga behaal. Nog ‘n groot mylpaal was in 2025 toe Multisure Corporation as titelborg aan­gesluit het.

Julie sê die klub bied ‘n waardevolle platform vir jong talent om hulself te bewys. “Ons sien al hoe meer jong spe­lers wat deel wil word van Young Blues, omdat hulle hier die geleentheid kry om teen sterk opposisie te speel en hul potensiaal te ontwikkel.”

Die pad was nie altyd maklik nie.

“Ons het tye van groot uitdagings gehad, waaronder ‘n tydperk waar die klub vir twee jaar weens ‘n gebrek aan geriewe nie kon speel nie. Dit was ‘n moeilike tyd vir die gemeenskap, maar dit het ook ons veerkragtigheid getoets en versterk.”

Die fokus bly op groei en sukses.

“Ons doel is om ons as een van die topklubs in die Boland te vestig. Ons mik na titels in die Grootuitdaag-Top-12 en die Gold Cup en wil so veel as moontlik van ons jong spelers tot op provinsiale vlak ontwikkel,” sê Julies.

Julies het hulde gebring aan die klub se stigters en vorige leiers en sê hulle “erken die families wat die klub gestig het . . . Ons bou voort op daardie nala­tenskap.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article