Die storting van vrot hoenderkarkasse naby die Lady Loch-brug in Wellington het verlede week woede onder dié dorp se inwoners gesaai, en die Drakenstein-munisipaliteit vra nou inwoners se samewerking om onwettige storting in sy munisipale gebiede hok te slaan.
Foto’s van die karkasse is op een van die dorp se Facebook-groepe gedeel nadat dit vermoedelik vroeg Donderdagoggend (7 November) in Lady Lochstraat naby die Bergrivier gestort is.
Terwyl sommige gespekuleer het dat dit dalk deur ’n sakeonderneming daar gestort is, het ’n inwoner en gemeenskapsaktivis van Newton op voorwaarde van anonimiteit aan Paarl Post gesê sy vermoed dit is inwoners van ’n nabye woonbuurt.
“Hoenders is onlangs ook by die laerskool hier in Newton gestort en dit het verskriklik gestink.
“Met nadere ondersoek het ons mense uit die gemeenskap uitgevind presies hoe die hoenders daar beland het, maar hulle was te bang om te praat.
“Die inligting is wel met wetstoepassers gedeel. Daar was gelukkig ’n nommerplaat en daardie inligting is toe met die owerhede gedeel.
“Ons vermoed dat hierdie mense die hoender in grootmaat koop, en sodra dit sleg raak, probeer hulle ’n vinnig en maklike manier vind om daarvan ontslae te raak,” het die Newton-inwoner gesê.
Louis Pienaar, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir ingenieursdienste, het by navraag aan Paarl Post gesê die munisipaliteit is vroeg daardie oggend ingelig oor die storting van die hoenders en het toe dadelik sy afvalbestuur-afdeling opdrag gegee om die karkasse te verwyder.
Die karkasse is toe tot by die munisipale stortingsterrein in Wellington geneem.
“Hoenderkarkasse word as spesiale afval geklassifiseer. In hierdie geval is kalk oor die karkasse gegooi om die reuk te beperk. Ons spanne het ’n sloot by die stortingsterrein gegrawe waarin ons dit begrawe het,” het Pienaar verduidelik.
Hy het gewaarsku oor die ernstige gevolge van onwettige storting.
“Nie net sal oortreders beboet word nie, maar hulle sal ook verantwoordbaar gehou word om op die gepaste wyse van die afval ontslae te raak.
“Sulke oortreders sal ook verantwoordelik gehou word vir enige negatiewe uitwerking wat die afval op die omgewing kan hê, insluitend alle koste en die rehabilitasie van die gebied waar nodig.”
Pienaar het verwys na ’n onlangse voorval wat ’n draai in die munisipale hof gemaak het waartydens ’n plaaslike sakeman ’n stewige boete opgelê is nadat ’n video-opname gewys het hoe sy werkers afval onwettig gestort het.
Hy het inwoners aangemoedig om onwettige storting aan te meld deur 080 131 3553 tolvry te skakel.




