Met Paasnaweek wat hier is, is daar min wat so lekker snoesig die siel inkruip soos ’n lekker warm Paasbolletjie gesmeer met baie botter en dan geniet saam met ’n koppie
boeretroos of tee.
En deesdae is daar allerlei Paasbolletjies om te kies en van
te keur. Maar die feit bly staan, nie alle Paasbolletjies is van dieselfde meet
nie.
Dus het die span van Paarl
Post vandeesweek die week afgeskop met ’n ‘blinde-proe’ van Paasbolletjies
vanaf die vier grootste handelaars in die dorp, naamlik Checkers, Spar,
Woolworths en Pick n Pay. Die Paasbolletjies
is almal op dieselfde manier warm gemaak en met ’n lagie suiwer botter gesmeer.
Almal behalwe een werknemer wat buite
stemming gebly het, het die bolletjies noukeurig geruik, gevoel, bekyk en
geproe, om vas te stel wie die kroon kan dra as Paasbolletjie-koning.
En al hoewel een handelaar se bolletjies glad nie die mas
opgekom het nie, was dit maar ’n taamlike moeilike besluit
om die uiteindelike wenner aan te wys.
Op die ou einde van die dag was Woolworths-bolletjies ’n
duidelike wenner omdat die bolletjies met meer geur gepak was.
Maar baie kort op sy hakke was die naaswenner die bolletjies
van Spar, Zomerlust in die Paarl, om presies te wees. En
as ’n mens die kans moet waag, kan gesê word
dat Woolworths en Spar eintlik nader aan kop-aan-kop was, met die Spar-bolletjies effe soeter vir diegene met ’n
soettand.
Pick n Pay se bolletjies was ook nie te versmaai nie en sy
tekstuur was lig en sag, maar hy is wel heelwat kleiner as die res. Spar wen sekerlik die prys as die plompste van die vier.
Maar die Checkers-bolletjies was baie teleurstellend – droog, klontjierig en byna geurloos.
Woolworths se Paasbolletjies kom oudergewoonte met ’n stewige prys van R31.90, Spar is paar rand minder op R24.90 en dan is
Checkers en Pick n Pay albei geprys op R16.99.
• Paasbolletjies het dalk hul oorsprong in die Brittanje,
maar tydens die Paasvakansie is die lekkerny byna ’n stapelvoedsel in Suid-Afrikaanse
huishoudings.
Daar word vermoed dat die broodjies in die 1700’s in
Engeland ontstaan ??het, en het bekend geword toe ’n monnik die rosyntjie gelaaide spesery bolletjie met ’n kruis
gemerk het ter ere van Goeie Vrydag. Die kruis, tipies op die broodjie se
bokant, is tradisioneel bloot ’n meelpasta.
Met verloop van tyd het die Paasbolletjie-resep
ontwikkel om verskeie smake te akkommodeer, soos rosyntjievrye weergawes asook
onkonvensionele weergawes soos die sjokolade Paasbolletjie.
Paasbolletjies is ook ’n gewilde pasmaat met die Kaapse
koningskos oor Paastyd – kerrievis.





