Die Paarl sal die fokuspunt wees van die provinsiale regering wanneer die amptelike opening van die Wes-Kaapse wetgewer vir die jaar en die premier se provinsiale rede hier sal plaasvind op 19 Februarie.
Dit sal ook die laaste keer vir die huidige termyn wees voordat die volgende termyn se leierskap in vanjaar se provinsiale en nasionale verkiesings verkies word.
Die Wes-Kaapse regering se speaker, Daylin Mitchell, het vandeesweek bekend gemaak die opening sal om 18:00 in die Huguenot-gemeenskapsaal in Paarl-Oos plaasvind, en die debat oor die provinsiale rede sal die volgende oggend op 20 Februarie daar gehou word.
Hy sê in ’n verklaring die geleentheid word weer na die mense van die provinsie geneem nadat dit in vorige jare al in Mitchells Plain, Genadendal en Velddrif gehou is.
Mitchell gaan ook aan die munisipaliteite oor die provinsie heen skryf om geriewe beskikbaar te stel vir inwoners om die verrigtinge regstreeks te volg.
“Die Wes-Kaapse wetgewer sien uit na die premier se provinsiale rede en om ruimte vir debat oor kwessies van kritieke belang vir die mense van die Wes-Kaap te bied, insluitend die ekonomie, energie en veiligheid.”
Die premier, Alan Winde, se kantoor het gesê die premier se openingstoespraak gaan nie net op die 2023-’24-boekjaar fokus nie, maar ook op sy eerste termyn as premier, sy planne vir die jaar asook ’n moontlike tweede termyn, indien hy herverkies sou word.
“Die premier se fokus sal daarop bly om die Wes-Kaap die eerste provinsie te maak wat beurtkrag oorwin, ’n provinsie waar meer werksgeleenthede en ekonomiese geleenthede geskep word en waar inwoners veiliger is,” lui die verklaring.





