Die Proteas, Australië en Pakistan sal in 2027 op Boland Park in die Paarl speel wanneer die stadion vier wedstryde van die Internasionale Krieketraad (IKR) se Wêreldbeker-krieket vir mans aanbied.
Die IKR het Donderdag (1 Oktober) die wedstryde aangekondig. Die wedstryde gaan van 12 Oktober tot 4 November op Bolandpark gespeel word.
Australië speel op 12 Oktober teen kwalifiseerder A, waarna Suid-Afrika op 13 Oktober met kwalifiseerder B gaan kragte meet. Australië en Pakistan bots op 22 Oktober. Tydens die laaste wedstryd op 4 November speel die A1- en B1-spanne in ‘n Super 7-wedstryd teen mekaar.
Stephen Korabie, die uitvoerende burgemeester van Drakenstein-munisipaliteit, sê die wedstryde versterk die Paarl en Wellington se reputasie as bestemmings vir groot sportbyeenkomste.
Volgens Korabie sal die geleentheid Drakenstein se sportgeriewe, die beeldskone natuur van Drakenstein, en gasvryheid aan ‘n internasionale gehoor bekend stel.
James Fortuin, uitvoerende hoof van Boland Krieket, sê die wedstryde bied aan plaaslike ondersteuners die geleentheid om Suid-Afrika en van die wêreld se voorste krieketspanne in die Paarl te sien speel.
“Ons moet groot gaan. Ons moet die gemeenskap en plaaslike ondernemings betrek en seker maak almal trek voordeel daaruit. Ons moet die wêreld nooi om na die Paarl te kom,” sê Fortuin.
Die toernooi kan ook ekonomiese geleenthede vir plaaslike ondernemings skep namate besoekers na verwagting restaurante, gastehuise en toeristebesienswaardighede ondersteun.
Laurichia van Niekerk, burgemeesterskomiteelid vir toerisme, sport en ontspanning by die munisipaliteit, sê plaaslike ondernemings in die gasvryheids- en toerismesektor kan voorberei op ’n moontlike toename in besoekers.
Die munisipaliteit werk saam met toerismevennote om besoekers aan te moedig om ook die streek se buitelugaktiwiteite, kos- en wynaanbod en kulturele besienswaardighede te verken.
Voorbereidings by Bolandpark is reeds aan die gang om die stadion gereed te kry vir die Wêreldbeker.





