Die Paarl is die perfekte plek vir The Rockets om tot ’n einde te kom. Só sê Theo Watt, voormalige voorsanger van The Rockets, oor die groep se heel laaste optrede dié Saterdag in die Amfiteater op Paarlberg.
Die groep se swanesang is deel van die rugbyklub Young Gardens se Back to our Roots-musiekfees waarmee hy sy 75ste bestaansjaarvieringe begin.
Dit is die laaste keer dat The Rockets onder dié naam sal optree omdat die groep ná meer as vyf dekades gaan ontbind ná die onlangse dood van hul legendariese leier, Jerry Watt.
Theo is opgewonde om die Paarliete een laaste keer te vermaak.
“Die Paarl is eintlik die Rockets se tweede tuiste, want ons het dinge altyd in die Drakenstein-hotel geruk. Ons het op ’n tyd elke naweek daar gespeel en dit was altyd gepak.
“Die mense van die Paarl is mal oor die Rockets en daar kon nie ’n beter keuse gewees het om die band ‘toe te maak’ as in die Paarl nie. Die ondersteuning daar was altyd amazing.”
En om ’n tribute vir sy oom Jerry te kan doen, gaan die geleentheid net nog meer spesiaal maak. “Ek dink nie jy gaan ooit weer so ’n band leader soos Jerry kry nie. Hy het sy alles vir The Rockets gegee. Hy het ons Kombi alleen uit die Kaap tot in Namibië en terug bestuur. Dit wys sy toewyding aan die band.”
Theo het ’n lang pad met musiek gestap en lei deesdae sy eie groep. Hy het goeie herinneringe aan sy tyd by The Rockets. “Ek het op sewe begin sing en op hoërskool het hulle my gedurende vakansies na Jo’burg of Sun City en sulke plekke laat vlieg om saam met hulle te perform. Ek was vir 32 jaar lid van The Rockets.
“Dis seker ’n fairytale dat ons nou klaarmaak in die Paarl, wat vir ons ’n tweede tuiste is.”
Behalwe Theo en The Rockets gaan Alistair Izobell, The Richard Ceasar Band, RJay & LK, Don Vino, Loren Erasmus, Chelsea Vox en Carl Hendricks ook hul talente uitstal.
’n Kontantkroeg en kosstalletjies sal op die dag beskikbaar wees, dus word geen piekniekmandjies en alkohol toegelaat nie. Geen onder 18’s word toegelaat nie.
Kaartjies teen R170 stuk is by www.webtickets.co.za en alle takke van Pick n Pay te koop.
Kaartjies is ook beskikbaar by Ivor by 082 432 2966, Andy by 083 272 6914, Lionel by 072 239 2181, en Mario by 082 380 2680.
Die musiek begin om 15:00 en eindig om middernag.. Drie gelukkige Paarl Post-lesers staan elk die kans om twee kaartjies na die optrede te wen. Whatsapp die naam van die bekende groep wat optree na 066 484 3728 voor 16:00 vandag (Donderdag 9 Maart).





