Ná jare se droom, drie gepubliseerde boeke en ’n draaiboek waaraan sy sedert haar tienerjare werk, wil Hillary Geslin van Wellington haar eerste rolprent ’n werklikheid maak.
Die skrywer het pas die konsep van haar 380-bladsy-draaiboek voltooi en soek nou professionele leiding en kontakte in die rolprentbedryf om die projek verder te ontwikkel.
Die skryfgogga het haar op 14 jaar oud gebyt toe sy ‘n leerder was aan die Hoërskool Wellington. Teen 17 het sy reeds aan die draaiboek begin werk, maar ander verantwoordelikhede en werkverpligtinge het beteken dat die droom oor die jare heen net ‘n droom gebly het, sê sy.
Sy het intussen drie boeke gepubliseer: Success comes with effort, Child protection guidance, You are doing the world a favour by putting effort into your children en Endless passion: Flowers can’t grow without rain.
Haar skrywerk handel onder meer oor persoonlike ontwikkeling, deursettingsvermoë, kinderbeskerming en die lesse wat mense uit moeilike omstandighede leer.
Volgens Geslin het haar geloof en die invloed van haar ma, Maria, en tante Angeline haar aangemoedig om verder as haar onmiddellike omstandighede te kyk en haar kreatiewe drome na te streef.
Sy het ook erkenning vir haar skryfwerk ontvang, waaronder die eerste plek in die Winnie Rust-toekennings en ‘n oorkonde van Ouma-Granny Huismuseum van die ATKV. ‘n Dokumentêre prent oor haar skryfloopbaan, wat deur DStv se Kwêla vervaardig is, het ook ’n Suid-Afrikaanse rolprent- en televisietoekenning (Safta) gewen.
Hoewel Geslin trots is dat die draaiboek nou voltooi is, besef sy dat daar nog werk voorlê.
“Ek wil nie bloot ’n voltooide draaiboek in my hande hê nie. Ek wil die storie ’n werklike kans gee om ’n rolprent te word,” sê sy.
Een van haar grootste uitdagings is om toegang tot die regte professionele netwerke en geleenthede te kry terwyl sy in Wellington woon.
Sy glo egter nie dat iemand se woonplek of agtergrond die omvang van hul drome behoort te bepaal nie.
“Waar jou storie begin, hoef nie te bepaal waarheen dit kan gaan nie,” sê Geslin.
Haar uiteindelike droom is om die draaiboek op die grootskerm te sien en terselfdertyd ander aspirantskrywers, veral dié uit kleiner gemeenskappe en minderbevoorregte agtergronde, aan te moedig om hul kreatiewe vermoëns te ontwikkel.
Sy hoop om met Suid-Afrikaanse rolprentvervaardigers, onafhanklike filmmakers en programme vir draaiboekontwikkeling in aanraking te kom om haar projek na die volgende fase te neem.





