Wellington-brandslagoffer maak oop oor emosionele, finansiële letsels

Danielle Nyman het ernstige brandwonde aan haar gesig en bolyf opgedoen en sal vir minstens nog twee jaar behandel moet word. Foto: Rasaad Adams
Danielle Nyman het ernstige brandwonde aan haar gesig en bolyf opgedoen en sal vir minstens nog twee jaar behandel moet word. Foto: Rasaad Adams

Sowat nege maande nadat haar man glo ‘n vlambare vloeistof op haar uitgegooi en aan die brand gesteek het, het Danielle Nyman, die sekretaresse van St. Albans Primêre Skool in Wellington, vandeesweek oopgemaak oor die emosionele letsels ná die gebeure op 11 Oktober verlede jaar.

Nie net sukkel sy om die mediese koste van haar brandwonde te dek nie, maar ook om tot verhaal te kom oor hoekom ‘n huwelik van 10 jaar só ‘n tragiese nadraai sou hê.

Hoewel hulle in daardie stadium 10 jaar getroud was, het die egpaar mekaar al langer as 20 jaar geken.

Die twee het ook ‘n 20-jarige dogter.

Haar man, Ryland Nyman (43), het verlede week weer in die Paarl-streekhof in verband met die beweerde voorval op 11 Oktober verlede jaar verskyn.

Hy is aangekla van poging tot moord en word aangehou.

Die saak is verlede week tot 23 Augustus uitgestel nadat hy ‘n nuwe regsverteenwoordiger aangestel het.

Hy is op 6 November verlede jaar deur die Wellington-landdroshof borgtog geweier, waarna die saak na die streekhof in die Paarl verwys is.

Die staat het destyds aangevoer dat hy ‘n sterk saak en genoegsame getuies en getuienis het om die aanklagte teen Nyman te staaf.

Danielle was verlede jaar lank in die hospitaal en is steeds op die herstelpad weens die erns van die brandwonde aan haar gesig en bolyf.

Sy dra tans ‘n masker om haar gesig en spesiale mediese kledingstukke wat die herstel van haar vel en bloedsirkulasie bevorder.

Danielle het vandeesweek aan die koerant gesê haar raad aan vroue in soortgelyke situasies is “om nie bang te wees om uit te praat nie”.

“Terwyl ek in die hospitaal gelê het, kon ek nie help om ‘n traan te stort toe ek foto’s sien van mense wat buite die hof betoog het nie.

“In daardie stadium het ek besef daar is werklik so baie ondersteuning daar buite – ondersteuning van mense wat ek nie eens ken nie.

“Ek dink daar is so baie vroue wat in hul verhoudings vasgevang voel.

“My boodskap aan hulle is om hul stemme te laat hoor – hulp is beskikbaar en hoef nooit te laat te wees nie,” sê sy.

Sy sê die hele gebeure het haar geloof en verhouding met God versterk.

“Dit was moeilik aan die begin. Wie sou kon dink dat iemand met wie jy langer as 20 jaar saamgeleef het, so iets aan jou sal doen?

“Ek dink geloof is wat ons hele familie ook staande gehou het – selfs my dogter. Sy was so sterk deur alles.”

Volgens Danielle is haar behandeling ‘n lang en duur proses wat reeds haar mediese fonds uitgeput het.

Sy is in samewerking met haar familie, haar kerk en gemeenskapslede besig om geld in te samel om die verdere koste te dek.

• Enigiemand wat met haar in aanraking wil kom, kan die gemeenskapsleier en aktivis Leezil Laubscher by 063 018 6942 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article