Dit is waterblommetjietyd in die Boland en die immergewilde Waterblommetjiefees is om die draai.
Saterdag 3 September kan feesgangers heerlik by die drie deelnemende kelders – Windmeul, Domaine Brahms en Rhebokskloof – saamkuier waar ’n propvol program ’n heerlike dag van saam kuier sal bied. Feesgangers kan uitsien na smullekker waterblommetjiegeregte wat van tradisionele waterblommetjiebredie tot waterblommetjieroomys, heerlike wyne en hope vermaak vir jonk en oud insluit. Die fees val saam met Windmeul-kelder se maandelikse plaasmark en Run the Vines-wedloop, met ’n propvol program van 09:00 tot 16:00.
Domaine Brahms bedien reeds van vroegoggend af ’n heerlike plaasontbyt in die Toeka-stoor. Die kinders kan opwindende trekkerritte geniet en die plaasdiere voer terwyl ma en pa tussen oudhede rondsnuffel.
Rhebokskloof se grasperke is ideaal vir ’n luilekker dag saam met vriende en familie met musiek en ’n heerlike speelplek vir die jongklomp. Hier kan weggelê word aan onder meer waterblommetjiepizza en waterblommetjieroomys.
Die drie kelders is binne ’n gerieflike vyf kilometer radius van mekaar en bied op die dag heerlike wynwinskopies aan. Toegang is gratis, maar feesgangers word gevra om ’n blikkie niebederfbare kos saam te neem om aan ’n plaaslike liefdadigheidsorganisasie te skenk. . Maak ’n draai by die webblad www.waterblommetjiefees.com of by @waterblomfees op Facebook en @waterblommetjiefees op Instagram vir die jongste feesnuus.




