Elsabé Lindtveldt (links), bestuurder van die Wamakersvallei-opleidingsentrum op Wellington saam met drie van die studente wat op die jongste diplomaplegtigheid van die sentrum as die topstudente van die eerste reeks kursusse van die jaar aangewys is. Hulle is Natalia Albertus (naaslinks), topstudent in kindersorg, Ventia Movilly, topstudent in tuisversorging en Jessie Jonathan topstudent in die kursus vir blitskokke. Heel regs staan Anathi Langula, ’n oudstudent van Wamakersvallei en ook ’n proporsionele raadslid van Drakenstein-munisipaliteit.Foto: Johan Nel


Die eerste reeks kursusse van die jaar wat deur die Wamakersvallei-opleidingsentrum aangebied is, is pas baie suksesvol afgehandel.

Volgens Elsabé Lindtveldt, bestuurder van die sentrum, word die eerste reeks kursusse van die jaar in Engels aangebied.

Altesaam ses blitskokke, ses kindersorg- en 23 tuisversorging-studente het hul kursus suksesvol voltooi.

Hulle het almal hul diplomas op ’n plegtigheid wat op 14 Junie op Wellington gehou was, ontvang.

Die feit dat van hierdie studente van ver plekke soos die Kongo, Gauteng en Natal afkomstig was, onderstreep die feit dat die gehalte van Wamakersvallei se kursusse hoog aangeslaan word en besig is om studente van oral in die land te trek.

Die volgende reeks kursusse in kindersorg en tuisversorging begin op 10 Julie.

Al die kursusse wat dan aangebied gaan word is reeds volbespreek.

Vir die stel kursusse wat daarna aangebied word en wat op 9 Oktober begin, is daar nog enkele openinge oor.

Lindtveldt het bygevoeg dat die sentrum tot dusver groot finansiële ondersteuning van veral die organisasie Valley of Abundance en van enkele wyksraadslede van die Drakenstein-raad ontvang het.

“Ons streef voortdurend daarna om blitskursusse van waarde aan studente te bied wat hulle ’n stewige fondament bied om nog meer sukses in hul bestaande loopbane te behaal of om met ’n nuwe loopbaan te begin.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article