Hoe gelukkig kan ’n afgebrande, bankrot, korrupte, misdaad-besmette trofeewenner vir vroue- en kindermishandeling-land net nie wees nie?

Die euforie oor Banyana Banyana se oorwinning oorskadu nuus oor Zuma, Zondo, Hlope, Phala Phala en die Guptas. Skielik ontwaak ’n paar sluimerendes en gaan in overdrive. Danny Jordaan belowe ’n bonus-bedraggie vir die span vir hul uiteindelike sege en die omstredenheid oor waar dit vandaan sal kom en hoedat dit uitgedeel gaan word, is vir eers opsygeskuif terwyl die besteelde Unisa beurse vir die spanlede aanbied en in die lofprysing baai.

Skielik is alles in perfekte sinchronisasie vir dié grotes om landwyd gehoor en gesien te word. Vrouedag word op 9 Augustus gevier, en die spanlede voel hul vroueregte is geskend omdat hulle nie dieselfde betaling as hulle manlike eweknieë kry nie. Vroueregte moet dus weer benadruk word. Op ’n manier kry min. Lindiwe Sisulu hier ook ’n opening en agiteer vir chemiese kastrasie omdat die regering niks doen vir voorkoming van geweld teen vroue en kinders nie. Gelukkig loop die ANC-konferensie in KwaZulu-Natal gelyktydig met die wonderlike wen-gebeurtenis en sy bepleit passievol die soort “medisyne” en belowe dat sy sal aanhou totdat dit gewettig word.

Slim ekke sien in almal se reaksie op Banyana Banyana se rug om hul ego weer ’n hupstoot te gee, ’n ietsie van sinvolheid, maar lagwekkend en selfs gevaarlike goed ook. Behalwe dat slegs die gedagte van chemiese kastrasie van min. Sisulu gevaarlik kan wees, mis dit ook totaal die kern van die probleem. Sy kan dalk net dié keer suksesvol wees met die werking van die soort medisyne vir oortreders, soos wat die idee was met die kankermedisyne wat sy in haar kop uit China vir wyle Jessie Duarte gebring het. Ek bedoel, sy werk tussen mans en dan kyk sy hulle net, en oeps!

Lagwekkende idees oor wat veronderstel is om uit die uiteindelike oorwinning – ná slegs ses probeerslae – te kom, want niks daarvan gaan ’n duik maak in gelyke beregting vir vroue nie. Dit is net nog ’n geleentheid vir politieke opportuniste om op die wa te spring en te verseker dat die hele wêreld weet hoe goed en belangrik hulle is. Nou wonder ek, is wen dan nie waarvoor Banyana Banyana gegaan het nie? Dis mos waaroor sport gaan. Is ’n bonus gratis universitêre opleiding en hernude baklei vir vroueregte soos nou aan hulle toegesê dus rêrig nodig? Wat maak hulle dan nou meer waardevol as voor die wen-ding? Waarom nou die gedagte dat hulle dieselfde behoort te kry as die manne?

In dieselfde asem is dit nie waarvoor skoolgaan daar is nie – om besig te wees met leer en gesonde skoolaktiwiteite om uiteindelik matriek te slaag nie? Is skoolkinders veronderstel om grootmensspeletjies te speel soos te rook, alkohol te gebruik en seks te beoefen? Is ouers nie veronderstel om hulle van kleins af reg en verkeerd te wys nie, asook verantwoordelikheid te neem vir hul opvoeding in totaliteit, en ook oor hul veiligheid te waak nie? Is gesins-, familie- en vriendskapsverhoudings nie uit liefde gebore en mense bedoel om mekaar te respekteer nie? Is kerke nie veronderstel om sondige mense tuis te laat voel deur die preek van die genadeboodskap nie? Is onderwysers, prokureurs, dokters, ministers, predikante, die polisie, dosente ens. nie veronderstel om hul beste te gee en te doen vir elkeen wat oor hul pad kom nie? Is mans en vroue nie juis anders aanmekaar gesit om verskillende take en pligte binne huweliksverband uit te voer nie? Is elke mens nie bedoel om elke dag die goeie en regte ding te doen nie?

Hierdie is nie moeilike vrae met moeilike antwoorde nie. Indien ons die rol en die doel waarvoor ons hier geplaas is, reg uitleef, is Menseregtedag, Gesinsdag, Vryheidsdag, Werkersdag, Jeugdag, Vrouedag, Erfenisdag, Versoeningsdag en wat ook al nog mos onnodig. Soos met alles in die land, word hierdie dae uiters subtiel uitgebuit en word iemand altyd finansieel daardeur bevoordeel.

So, my liewe Banyana Banyana- woordvoerder en geagte minister Sisulu, die 28ste Vrouedag-viering van Suid-Afrika sal weer op die gewone manier geskied – ’n samekoms van dikwels dieselfde vroue, om mooi gedekte tafels vol snoeperye en ’n spreker, wat nie gratis optree nie, om weer eens die vroue te (probeer) bemagtig en te motiveer.

Dis net wat dit is: ’n Saameet en saampraat en niks verander nie, want 90% van alle kinders word nie binne ’n gesonde gesinsverband grootgemaak waar pa’s en ma’s kinders voorgaan in die regte lewenswandel en kernwaardes leer nie.

Alle pogings binne en buite regeringsverband is slegs die dokter van simptome van ’n oorwegend siek volk met ’n verrotte innerlike, grotendeels veroorsaak deur liberale wetgewing wat gebore is uit skeefgetrekte menseregte wat in beginsel dissipline afgebreek het en so respek vir ander se liggaam, lewe en eiendom uitwis. Dit regstel deur sprekers by ’n Vrouedagviering en nog ’n wet afdwing by ’n konferensie?

Nooit! Die enigste hoop is ’n wonderwerk. Laat ons daarvoor vra.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article