Vir diegene wat die hoogs suksesvolle piekniek in Januarie gemis het, is daar nog ’n kans om asem te skep en die volmaan van nader te bekyk op ’n heerlike somersaand op die beeldskone Paarlberg.
Daarom nooi die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se vriendelike personeel almal hartlik uit om hierdie natuurlike verskynsel op Vrydag 18 Februarie te vier.
Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek gewy aan die dassie, ’n boorling van Afrika en die Midde-Ooste. Dit is ’n uitsonderlike dier aangesien dit die naaste lewende familielid van die veel groter Afrika-olifant is, en uitsonderlik in die sin dat sy spysverteringskanaal ’n orgaan bevat wat net in voëls voorkom en in geen ander soogdier nie. Dit is ’n geharde en aanpasbare dier, wat ook ’n belangrike voedselbron vir die San en Khoi was.
Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én toeriste, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Gaste kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument, ’n simboliese beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Besoekers word aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken. Buitelug-speletjies en speelparke is vir kinders ingerig.
Besoekers is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of ’n piekniekmandjie by die ATM Koffiehuis via 082 216 2510 of info@atmkoffiehuis.co.za te bestel. Die koffiewinkel sal ook verversings by die geleentheid verkoop. Onthou ook warm klere en ’n flits, asook ’n masker. Besoek www.taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokol.
Toegang beloop R40 per volwassene, R10 vir SA studente en pensioentrekkers, R5 vir kinders en is gratis vir kinders onder ses jaar asook jaarpermithouers. Kaartjies is by Computicket of die hek te koop. Geen besprekings is nodig nie. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van “Laat ons Lees!”, die Taalmuseum se geletterdheidsprojek vir kinders, en besoekers word versoek om ’n nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk. Die laaste Volmaanpiekniek is op 18 Maart. Meer oor die Sentrum vir Astronomiese Erfenis by https://cfah.org.za.
Vir nog inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543 of besoek taalmonument.co.za.
Die webtuiste van die ATM bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte is beskikbaar.
Jaarpermitte kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.




