Kom bymekaar om saam-saam by mekaar te leer en mekaar anders te maak by vanjaar se 13de Tuin van Digters-digfees op Vrydag 13 en Saterdag 14 September in die geboue en digterstuin van die Breytenbach-sentrum in Wellington.
Ingrid Jonker is die digter wat vanjaar by die samekoms postuum gehuldig sal word. Sy sou nou 90 jaar oud gewees en haar 91ste verjaardag op 19 September gevier het.
Die huldiging aanstaande Vrydagaand (13 September) sluit in ’n roerende aangepaste huldigingsvideo deur Petrovna Metelerkamp, Ingrid Jonker – Wêreldwyd, oor die lewe en nalatenskap van Jonker en oor haar gedigte. Ingrid praat onder meer ook oor haar lewe en lees van haar gedigte voor.
Dit sal voorafgegaan word met die sing van toonsettings van gedigte van Ingrid deur ’n jong Ingrid-liefhebber, Ilana de Vlakte, van die Kalahari. Die huldigingsaand sal afgesluit word met ’n spesiale woordkunsprogram, “Ontvlugting & Tussen bloeisels”, met die sopraan Elizabeth Marais en die bas-bariton Corniël Calitz, wat van Ingrid sowel as Breyten Breytenbach se gedigte sal sing, met klavierbegeleiding deur Lara Kirsten.
Die feesuitstalling vanjaar is “Str(a)y” deur Elizabeth Gunter in die Breytenbach-galery en ’n foto-uitstalling, “In die Skeppende Oomblik”, deur wyle Paul Alberts in die Cloete-gemeenskapsgalery. Prof. Stella Viljoen, mede-professor in visuele studies by die Universiteit Stellenbosch, open die uitstalling.
Die mens/dier se saamweesverhouding dien as ’n onderwerp in Gunter se kuns wat hoofsaaklik tekenkuns behels. Alberts het hom met sy foto’s daaraan toegewy om die groot geeste van Suid-Afrikaanse kuns in hul skeppende oomblikke in die sewentiger- en tagtigerjare te dokumenteer. Die uitstalling is saamgestel deur sy weduwee, Charmainé Alberts, en gee ’n dinamiese oorsig van die destydse kultuurbedryf.
Die pianis en musiekkunstenaar Rocco de Villiers lewer die Saterdag na ’n spesiale musiekoptrede voor die klavier en lees voor uit sy digbundel, Die Eiesoortiges.
’n Ander besondere musiekoptrede is deur Frieda van den Heever. Sy bied ’n unieke ervaring met haar eie toonsettings, wat in haar gevierde debuutalbum, Spoorsny, sowel as toonsettings van gedigte van Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach en ander Afrikaanse digters.
Buiten die oorhandiging Saterdagaand van die Ingrid Jonker-prys aan vanjaar se wenner van die beste debuut-digbundel, behels die program verskeie ander hoogtepunte om na uit te sien
Kaartjies vir Tuin van Digters 2024 kan gekoop word by Quicket by https://qkt.io/PInelB. Die volledige program-besonderhede is op die webwerf by www.breytenbachsentrum.co.za.
Besoek ook die Breytenbach-sentrum se Facebookblad en Instagram vir deurlopende inligting oor die programdeelnemers.




